Bethal se De Wet Matthee voel tuis met ’n verfkwas
De Wet Mattthee bied paletmes skilderklas by Oppibult PlaasJuppie Fees aan.
De Wet Matthee (42) is gelukkig in sy ateljee met ’n verfkwas of paletmes in sy hand.
“Om te skilder, maak my gelukkig,” het Matthee gesê.
Hy het by die bekende skilder van Bethal, Mike Parsons geleer hoe om te skilder en Parsons was vir hom soos ’n pa.
Matthee het op Bethal grootgeword en het ná matriek eers ’n draai in Engeland gemaak waar hy plaaswerk gedoen het en as kelner gewerk het.
Hy het eers later in sy lewe begin skilder .
Ná twee jaar in Engeland, het hy teruggekeer na Suid-Afrika en in Pretoria ook as kelner en in ’n blommewinkel gewerk.
Hy wou eintlik leer hoe om juwele te ontwerp, maar hy kon nie ’n beurs kry om vir sy studies te betaal nie.
Matthee is later Kaap toe waar hy vir ’n paar jaar gewoon het en as kroegman gewerk het voordat hy na Bethal teruggekeer het.
Sy ma het ’n raamwinkel op Bethal en Matthee het hiér gewerk en sy oorlede pa, wat ook geskilder het, se verfkwaste opgetel en begin skilder.
Hy het eers later na Parsons gegaan en by hom geleer hoe om te skilder en het gereeld saam met hom gereis na ander dorpe en veral Clarens waar hulle fotos geneem het van wat hulle dan later vir hulle skilderye gebruik het.
Hul paaie het gekruis nadat Parsons van Matthee se werk gesien het.
Matthee verkies dit om deesdae meer met sy paletmes as met kwaste te skilder.
Hy gee weekliks kunsklasse en soms gaan bied hy ook by mense wat graag skilder se huise vir hulle ’n klas aan.
“Dan kan hulle gemaklik in hul eie omgewing skilder,” het Matthee gesê.
Sy gunsteling-tonele om te skilder is landskappe, maar hy geniet dit ook om portrette en stillewe te skilder.
“Ek het vroeërjare baie stillewe-skilderye gedoen, dit leer ’n mens baie dissipline van verf.”
Beide Parsons en Matthee se name is genoem in die South African Art-tydskrif onder die top 100 verkopers.
Hy het homself beskryf as ’n natuurmens wat graag visvang en stap.
Matthee het nog altyd ’n dagboek gehou en hy geniet dit om soms gedigte te skryf.
Hy het al aan sy eerste boek, wat handel oor sy tyd in Engeland, begin skryf, maar toe het die rekenaar waarop hy gewerk het, gebreek.
Matthee bied by die Oppibult PlaasJuppie Fees wat op Saterdag, 27 Augustus by die Jim van Tonderskool plaasvind, ’n paletmes-skilderklas aan.



