Local newsStreeknuus

Daar ís nog tyd om by Sakeliga se KragDag 2022 te gaan inloer

Die uitstalling het op Donderdag, 11 Augustus afgeskop en kom op Saterdag, 13 Augustus ten einde.

Sakeliga KragDag 2022, die grootste alternatiewe energie en selfstandigheidsekspo in Suid-Afrika, word vanjaar vir die 13de keer aangebied op Diamantvallei Landgoed, 20km oos van Pretoria.

Die uitstalling het op Donderdag, 11 Augustus afgeskop en kom op Saterdag, 13 Augustus ten einde.

Die KragDag-ekspo het begin as ’n platform waar alternatiewe energie-oplossings ten toon gestel is tydens ’n een dag geleentheid, en het in 14 jaar gegroei tot ’n drie-dag ekspo met sowat 570 uitstallers op ’n ses hektaar terrein.

“Hier sit ons aan die suidpunt van Afrika, in ’n derde wêreld-land, wat, as jy om jou rondkyk, jaar na jaar verder om ons wegkrummel. Ons wil egter nie op al die negatiewe dinge fokus nie, maar vir julle eerder vertel van KragDag en hoekom ons doen wat ons doen,” het Soné Saunders, uitstalkoördineerder van KragDag, Streeknuus meegedeel.

“KragDag help skep aan ’n selfstandige gemeenskap wat die publiek inspireer om hul eie ding te doen. Om jou eie ding te doen, is nie net om ’n doen-dit-jouself-projek aan te pak nie, dit is soveel meer. Dit is ’n lewenstyl.

“As dit dus lyk asof alles om ons in duie stort, is die beste reaksie om jou moue op te rol, en te bou aan ’n beter toekoms vir jou en jou kinders. Verandering begin egter by jouself, en om verantwoordelikheid vir jou omstandighede te neem,” het Saunders bygevoeg.

“Almal moes swig onder die invloede van beurtkrag en ons ken iemand wat moes wag in ’n noodsituasie omdat daar bloot nie ’n voertuig beskikbaar was nie. Om byvoorbeeld jou eie krag te voorsien en verantwoordelik te wees vir jou eie veiligheid, is maar net ’n klein deeltjie van ’n veel groter prentjie.

“Hierdie dinge maak jou onafhanklik van buite invloede buite jou beheer. Hierdie lewenstyl is egter nie om ’n kluisenaarsbestaan te voer nie. Dit is om in ’n gemeenskap saam te werk om onafhanklik te word.”

’n Paar van die gebeurlikhede om vanjaar na uit te sien, sluit onder meer in alternatiewe energie en selfstandigheidsoplossings om alledaagse probleme uit te sorteer, ’n uitgebreide landbou-afdeling met groot trekkers, die Toyota Jong Afslaerskompetisie wat deur Plaasmedia aangebied word, asook ’n hele paar vee-uitstallings, ’n Kou-en-Kuns met handewerk en eetgoed te kies en keur vir oud, jonk, mans, vroue en kinders, ’n junior entrepreneurskompetisie en pretpark, en vanjaar vir die eerste keer ook ’n wetenskap-ekspo en ’n opvoedkunde uitstalling vir bestaande en voornemende leerders wat ’n alternatiewe skoolgaanroete wil volg.

In die raadsaal in die Sakeliga Plein sal verskeie aktuele en informatiewe aanbiedings, asook ’n klassieke musiekuitvoering plaasvind, daar sal ’n propvol arena wees met bythond-demonstrasies, berede boogskiet, asook hommeltuigdemonstrasies. Daar is ook ’n kampterrein waar daar heerlik saam gekuier kan word. Vir dorstiges is daar ’n boertuin en helikopter-ritte vir die wat graag die asemrowende terrein vanuit die lug wil aanskou.

Toegang beloop R100 per persoon, toegang vir kinders 18 jaar en jonger is gratis. Dit is nog nie te laat nie. Neem die gesin en gaan besoek die KragDag ekspo nou. Besoek www.kragdag.co.za vir meer inligting.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button