Terwyl klein Eduan Naudé (2 maande) steeds in die Kloof Hospitaal in Pretoria is, het sy ouers se woonplek op Secunda gebrand.
’n Brand het op Donderdagmiddag, 18 Augustus by hul woonstel in Piketbergstraat ontstaan en die woonstel, die hoofhuis en die wendyhuis op die erf het in die slag gebly.

Eduan se pa, Henrico Naudé, het gesê hulle bly tans by sy ma en dit is moeilik om op dié stadium te sê wat hulle alles kort, maar hulle het nie meer kaste vir hulle klere en skoene nie.
Die gemeenskap het reeds uitgereik na die egpaar en klere begin aandra.
Naudé het gesê hulle is dankbaar vir elke donasie.

Klein Eduan, wat op 20 Junie as ’n mikro-premature baba gebore is, moet op Donderdag, 25 Augustus ’n operasie ondergaan om sy ingewande te herstel.
Hoewel hy tans stabiel is, spring sy infeksie-telling en hy sal heel moontlik nog vir ’n rukkie in die hospitaal moet bly.
Sy ma, Nadine Naudé, kon hom egter verlede week vir die eerste keer in ’n lang tyd vashou.

Dokters het nie gedink Eduan sou dit so lank maak nie, maar na baie terugslae sedert sy geboorte en operasies, tel Eduan nou mooi gewig op.
Die Naudé-egpaar het vasgehou aan hul geloof en vir hul seuntjie gebid.
By geboorte het hy 1.20kg geweeg en nou weeg hy 1.27kg.
Naudé het die gemeenskap vir hul ondersteuning bedank.

https://www.citizen.co.za/ridge-times/292620/secunda-ouers-glo-in-baba-se-genesing/



