Local news

Die vervoer van beeste weens die verspreiding van bek-en-klouseer in Bronkhorstspruit-omgewing verbied

Gevalle van die siekte het meer as ’n jaar gelede buite Suid-Afrika se beheergebied in KwaZulu-Natal en Limpopo voorgekom, maar ses maande gelede het dit ook na die Mpumalanga, Gauteng, die Vrystaat en Noordwes versprei.

In ’n poging om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp, is daar weer eens ’n verbod op die vervoer van beeste aangekondig.

Die Departement van Landbou, Grondsake en Landelike Ontwikkeling het die verbod op 16 Augustus aangekondig.

Die verbod geld geld slegs op beeste en nie ander vee soos skape, bokke, varke of wild nie.

Dit is op Woensdag, 18 Augustus, in die Staatskoerant gepubliseer.

Gevalle van dié siekte het meer as ’n jaar gelede buite Suid-Afrika se beheergebied in KwaZulu-Natal en Limpopo voorgekom, maar ses maande gelede het dit ook na die Mpumalanga, Gauteng, die Vrystaat en Noordwes versprei.

Landwyd was daar teen die einde van Julie reeds meer as 100 gevalle van die gevreesde siekte onder beeste aangemeld.

In die Vrystaat is daar onlangs twee kwarantyngebiede afgekondig.

In een van die nuutste gevalle is die voorkoms van bek-en-klouseer by ’n voerkraal op Bronkhorstspruit bevestig.

Dié uitbraak het tot die gevolg gehad dat verskeie plase wat binne ’n 10km radius van die betrokke voerkraal val, ook onder kwarantyn geplaas is.

Weeklikse roetine-toesig wat ’n sensus van diere op die betrokke plase insluit, en die neem van bloedmonsters by beeste is deel van die skrywe wat boere ontvang het.

Intussen het die Vryheidsfront Plus se Tammy Breedt in ’n mediaverklaring laat blyk dat die tweede grootste uitbreking van die siekte binne vier maande wys die regering het geen werklike erns om die siekte te bekamp nie.

“Die verbod van drie weke op die vervoer van beeste wat die Minister van Landbou, Thoko Didiza, deur ’n mediaverklaring aangekondig het, sal nie net ernstige gevolge vir boere inhou nie, maar sal ’n negatiewe impak op verbruikers en die rooivleisbedryf hê,” lui die verklaring.

“Die departement het ook in ’n oorsigverslag erken dat die onwettige vervoer van diere een van die hoofoorsake vir die verspreiding van bek-en-klouseer is.”

Daarvolgens sou slegs beeste wat deur ’n veearts as klinies gesond gesertifiseer word en waarvoor daar ’n bewegingspermit uitgereik is, na ’n slagpale vervoer kan word.

Slegs geregistreerde slagpale mag egter van die klinies-gesond-verklaarde beeste vir die doel van slagting ontvang.

Volgens Wikipedia, is kenmerke van bek-en-klouseer by diere, hoë koors wat vinnig na twee of drie dae afneem, en blase in die dier se bek wat lei tot oormatige afskeiding van skuimagtige speeksel en kwyl.

Blase vorm op die pote van diere, dit kan bars en lamheid tot gevolg hê.

Volwasse diere kan ook baie gewig verloor.

Diere herstel gewoonlik na ’n tyd, maar die siekte kan lei tot miokarditis (inflammasie van die hartspier) en gevolglik die dood.

Sommige besmette diere toon geen tekens van die siekte nie (asimptomaties).

Hierdie diere kan egter ander diere aansteek.

Suid-Afrika het gedurende die groot uitbraak van dié siekte in Junie 2019 sy bek-en-klouseervrystatus verloor (Streeknuus, 6 Desember 2020).

Die algemene verwagting onder kenners blyk te wees dat dit nie gou weer sal verander nie.

Die verbod op die vervoer van beeste geld vir drie weke.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button