Local news

Lenòr Cloete van Secunda reik nuwe musiekvideo uit

Sanger bied binnekort ook aanlyn radio-program aan.

Lenòr Cloete (42) se begeerte om Abba Vader te aanbid met haar lewe, was die inspirasie vir die liedjie, ‘Ek Loof U vir wie U is’ wat sy geskryf en laat opneem het.

Dié liedjie is in 2010 vir die eerste keer opgeneem en uitgereik op Lenòr se tweede album.

Haar eerste aanbiddings-album, Uitbars vir Jesus, is tydens ’n aanbiddingsaand by die Lewende Woord Kerk Brummeria opgeneem en later het sy haar eerste solo-album uitgereik.

Haar eerste gewone album, ‘My Rede’ is in ’n ateljee opgeneem en is deur Brettian Platemaatskappy versprei.

“Ek het dié album se titel gekies omdat Christus Jesus my rede is waarom ek wil sing.”

Oor dié album het sy gebid en vir Abba Vader gevra wat Sy droom vir haar lewe is.

Sy het duidelik gehoor hoe Hy gesê het Hy roep haar om Sy kinders te leer hoe om Hom in gees en waarheid te aanbid.

“Aanbidding is nie net musiek of sang nie, dit is ’n leefwyse.

“Ons moet Vader loof vir wie Hy is en nie net vir dit wat Hy vir ons kan doen nie.”

Sy het haar liefde vir aanbiddingsmusiek vanaf haar ma, wat gereeld by kerke se aanbidding betrokke was met orrelspel en klavier, gekry.

Sy het, toe sy net vyf jaar oud was, vir die eerste keer opgetree en gesing.

Dit was by die kleuterskool se gradeplegtigheid aan die einde van die jaar op haar tuisdorp, Secunda.

“My liefde vir aanbiddingsmusiek kom al sedert my kindertyd,” het Lenòr gesê.

Sy het, toe sy in gr. 1 was, klavierlesse begin neem en het in haar hoërskooljare in die kerk se jeugorkes en aanbiddingsspan begin sing.

Sy het in haar tienerjare ook kitaarlesse begin neem en die vrou waar sy lesse geneem het, het gesê Lenòr sing mooi en sy het meer begin werk aan haar sangloopbaan.

Sy het in haar matriekjaar aan die hoogste punte op die provinsiale Eisteddfod Kuns en Kultur-kompetisie behaal en was die algehele wenner in die provinsie.

“Dit het vir my baie beteken, want ek het baie kere gevoel niemand sien my raak nie en ek is op skool baie gespot en geboelie.

“Na daardie kompetisie, het dit my meer selfvertroue gegee.”

Ná matriekjaar het Lenòr by die diensjaar vir Christus-span, Shilo Go School, aangesluit waar sy gekies is as die hoofsanger vir dié instansie se orkes.

Lenòr het later vir drie jaar uitvoerende kunste studeer en ook meer van opera-musiek geleer.

Mense wat haar gehoor sing het, het haar aangemoedig om ’n loopbaan van opera-musiek en kore te maak, maar sy wou nie.

“Ek voel Abba het my vir aanbiddingsmusiek geroep en dit is wat ek nog altyd wou doen.”

Sy was vir 13 jaar voltyds in die bediening as deel van die aanbiddingspan by die Lewende Woord Kerk in Brummeria.

Lenòr het ook by verskeie kerke in die aanbiddingspan gewerk en het ook met mense van al die kultuurgroepe in Suid-Afrika gewerk.

’n Internasionale uitsaaier, FaithTV het ook Lenòr se musiek op hul kanale uitgesaai.

“Ek het vir die Here gevra Hy moet my net nederig hou en toe het hy my weggeneem van die verhoog.

“Ek het vir ’n rukkie agter die skerms op televisie-stelle gewerk waar ek die koffie aangedra het, die kabels rondgeskuif het en mense se grimering gedoen het.”

Lenòr het, kort voor die inperkingstyd, twee musiekvideos opgeneem, weer ‘Ek Loof U vir wie U is’ en ’n Engelse liedjie, ‘Every Nation Anthem’.

Sy meen dié opnames was ’n seën uit baie kinders van Abba Vader se harte waarvoor sy dankbaar is.

“’n Groep professionele musikante en mense wat deur Abba Vader gelei was om my te help en om vir alles te betaal, het my pad gekruis en daarna het ek ’n wonderlike verspreidingskontrak gekry.

“Nòg ’n wonderwerk tydens dié reis was toe ek ’n publikasie-kontrak van Neulight Productions in die Kaap gekry het tydens die eerste inperking.

“Dit het gehelp dat my liedjies landswyd versprei is en dat die musiekvideo, ‘Ek Loof U vir Wie U is’, die laaste jaar op Sondae op KykNet uitgesaai is.”

Dié twee liedjies van haar is tans op iTunes asook You Tube Music beskikbaar.

Lenòr gaan vanaf Augustus gehoor kan word op Gospel FM se radio-program, ‘A Life of Pure Worship’ wat sy gaan aanbied.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button