Malita-inwoner in ongeluk onderweg na hospitaal op Delmas
Van Vuuren het in die pad teen die sypaadjie in die troostende arms van een van NTT Toyota se werknemers gelê, terwyl die eerstehulpspan haar kalm gehou het.
’n Vrou, op pad om besoek aan haar man by die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas te bring, was op 26 Augustus in ’n ongeluk voor die hospitaal betrokke.
Jackie Janse van Vuuren het dié Vrydagoggend haar man se medisyne bymekaar gesit.
Die hospitaal het daarvoor gevra voor hulle nuwe medikasie sou kon voorskryf.
Janse van Vuuren het egter nie by die hospitaal uitgekom nie, want waar sy vanuit Sarel Cilliersstraat regs in Hospitaalstraat gedraai het, het ’n bakkie vanuit die Eloff-rigting in haar vasgery.
Met Streeknuus se aankoms op die toneel was verkeersbeamptes en die brandweer reeds op die toneel.
Janse van Vuuren se erg beskadigde Toyota het in die pad gestaan en die tweede voertuig het etlike meters vorentoe in Sarel Cilliersstraat gestaan.

Albei voertuie se lugsakke het weens die geweldige impak van die ongeluk ontplooi.
Die bestuurder van die bakkie het op die toneel aangedui dat hy geen beserings opgedoen het nie, maar Janse van Vuuren was beseer en het duidelik aan skok gely.
Die Eloff Buurtwag, tesame met ’n lid van die Argent AfriForum-plaaswag, het dadelik begin om noodhulp toe te pas.
Hoewel die ongeluk slegs etlike meters vanaf die hospitaal plaasgevind het, is daar lank vir die staatsambulans gewag.
Ná ’n paar oproepe, het ’n lid van die Eloff Buurtwag na die hospitaal gery waar hy gepoog het om ’n ambulans na die toneel te ontbied.
Janse van Vuuren het in die pad teen die sypaadjie in die troostende arms van een van NTT Toyota se werknemers gelê, terwyl die eerstehulpspan haar kalm gehou het.
Intussen het die Delmas Polisie ook op die toneel opgedaag.
Met die ambulans se aankoms, is Janse van Vuuren na die hospitaal geneem.

Sy is die volgende oggend ontslaan nadat daar vasgestel is dat sy geen breuke opgedoen het nie.
“My man is intussen ook ontslaan. Hy is met longontsteking gediagnoseer en is ook ’n diabeet,” het Janse van Vuuren gesê.
Die Janse van Vuuren-egpaar woon nou slegs ’n maand op Delmas en dinge het nie vir hulle goed begin nie.
“Ons het presies een maand gelede ons intrek by Malita Aftree-oord geneem en het nog nie eers die huurgeld vir ons tweede maand betaal nie.
“Ons het voorheen by ons kinders op Middelburg gewoon.
“Die motor was boonop nie verseker nie. Ons is net pensioentrekkers en dit het ons ’n groot nekslag toegedien,” het Janse van Vuuren Streeknuus meegedeel.

Die Janse van Vuurens gaan intussen by hul ander kinders in Benoni tuis totdat hulle albei volkome herstel het.
“Ek wil almal vir hul hulp na die ongeluk bedank.”
Die egpaar is dankbaar teenoor NTT Toyota wat aangebied het om die Janse van Vuurens se motor gratis van die toneel weg te sleep en op hul perseel te stoor totdat uitsluitsel daaroor verkry kan word.
Teen druktyd het Janse van Vuuren Streeknuus meegedeel dat sy nog baie seer het.
“My linkerkant is veral seer, my bors en ook my ribbes. Ek haal moeilik asem, maar is dankbaar om te leef.”
Die oorsaak van die ongeluk vorm deel van ’n polisie-ondersoek.




