AfriForum op Bethal reik uit na inwoners
Sluit by organisasie aan en word deel van oplossing.

AfriForum se plaaslike tak het gedurende Augustus verskeie projekte as deel van hulle #OnsDorp-projek aangepak en in samewerking met die gemeenskap, slaggate in Blesbok- en Gemsbokstraat gevul.
Dié projek het langer as twee weke geneem en meer as R20 000 is aan dié projek bestee.
AfriForum se tak op Bethal het ook nóg ’n oes van hul groentetuin-projek gekry wat onder andere, meer as 40kg se spinasie opgelewer het wat aan inwoners van ’n tehuis op Morgenzon geskenk is.
AfriForum kon ook, met behulp van boere in die Laeveld wat vrugte geskenk het, twee bakkievragte vol naartjies en ander sitrusvrugte aan verskeie skole, tehuise en die sopkombuis op Bethal gee.
Die Bethal AfriForum-tak het ook onlangs, toe inwoners sonder water was terwyl Randwater herstelwerk aan die waterpyplyn gedoen het, gehelp om te verseker dat inwoners van Silwerjare Ouetehuis, water het.
Volgens Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld, was daar vir langer as 48 uur ’n risiko van watertekorte.
Hy het gesê AfriForum se Bethal-tak is dankbaar dat hulle die gemeenskap op soveel verskillende maniere kan bystaan en sal aanhou om die gemeenskap te ondersteun.
Belangstellendes wat by AfriForm se Bethal-tak wil aansluit, kan ’n SMS met die woord, “Bethal” na 45340 stuur. ’n SMS kos R1.



