Local news

Mense geniet Edu Prosperi Sentrum se Pa en Seun-dag naby Kinross

‘Survivor’-deelnemer praat by geleentheid.

Renier Louwrens wat aan MNET se TV-realiteitsreeks, Survivor deelgeneem het, was die gasspreker op Saterdag, 27 Augustus by Edu Prosperi Sentrum se Pa en Seun-dag.

Dié dag is by Noah’s Ark buite Kinross aangebied en daar was ’n verskeidenheid aanbiedings en aktiwiteite om die pa’s en hul seuns besig te hou.

Louwrens het vertel van sy ondervinding in April vanjaar toe hy die 250km Drakensberg Grand Traverse-staproete probeer hardloop het om ’n nuwe rekord op te stel.

Renier Louwrens spreek die gehoor toe by Edu Prosperi Sentrum se Pa en Seun-dag op Saterdag, 27 Augustus.

“Jy hardloop net met dit wat aan jou lyf is en jou baadjie,” het Louwrens vertel.

“By die Cleft-piek het dit begin reën en ek was aan die bo-kant van ’n 300m afgrond.

“Dit was bewolk en daar was geen lig behalwe my kopliggie nie.

“Ek het besef as ek toe ’n dom besluit sou maak, sou dit dalk die laaste storm wees wat ek sou beleef en ek het aan my vrou en twee kinders by die huis gedink.

“Die storm het my nie net fisies stadiger gemaak nie, maar dit het ook veroorsaak dat ek ’n besluit sou moes neem wat ander se lewens kan beïnvloed.”

Louwrens moes besluit of hy gaan aanhou hardloop en dit moontlik nie lewend maak tot by die eindpunt nie en of hy in die grot, waar hy toe skuiling gekry het, gaan wag tot die storm verby is en dan eerder veiliger en stadiger verder beweeg sodat hy lewend anderkant kon uitkom.

Douw Botha van Govan Mbeki Brandweerdiens wys vir Samantha Potgieter hoe om met poeier te spuit.

“Ek het besluit my vrou soek ’n lewende man en my kinders ’n lewende pappa.

“As ’n mens se besluite ander se lewens beïnvloed, verander die kriteria waarvolgens ’n mens besluite maak,” het Louwrens gesê.

Die Govan Mbeki Brandweerdiens het vir die toeskouers gewys hoe die kake van die lewe werk en gebruik word om iemand uit ’n voertuig wat in ’n ongeluk was, te bevry.

Douw Botha van die brandweerdiens het vir kinders die noodnommer geleer en die jongspan die kans gegee om te voel hoe die brandblusser poeier spuit.

Maverick Hammond van MarvCorp het ook met die toeskouers gepraat, veiligheidswenke gegee en mense gewys hoe hulle hulself kan verdedig.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button