Local news

Dieresorgsentrum op Standerton wil geriewe uitbrei

Die doel van die sentrum is om diere wat op straat woon en nie ’n huis het nie, te help.

Die dieresorgsentrum van Northern Light Foundation (NLF) vier hul sesde bestaansmaand.

Hillel Coetzer, uitvoerende hoof, het in ’n persverklaring gesê dat 80 diere sedert hul opening ingeneem is.

Daar is gehelp om eienaars op te spoor of om nuwe huise te kry.

Sowat 5.6 ton kos is gebruik en sowat 3 600l water om diere te bad en van water te voorsien.

“Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om ons te kontak indien hulle diere wegloop om seker te maak dat hierdie diere weer aan hulle eienaars terugbesorg word,” het Coetzer ook gesê.

’n Streng aannemingsproses word gevolg: eerstens moet ’n aansoekvorm voltooi word; indien jou aansoek goedgekeur word, word ’n huisbesoek gedoen deur vrywilligers om te verseker dat jou huis geskik en veilig is vir die dier wat jy wil aanneem; daarna reël hulle dat jy die dier ontmoet en die finale kontrak teken, asook ’n aannemingsfooi betaal van R200 (plus die koste vir ontwurming en inentings indien nodig).

Die sentrum word in samewerking met Kromdraai Kennels bestuur, op Kromdraai Kennels se perseel.

Die doel van die sentrum is om diere wat op straat woon en nie ’n huis het nie, te help.

Die gemeenskap word versoek om diere wat hulle optel en rond sien loop, af te laai by die sentrum.

NLF sal verseker dat hierdie die hoofdoel bly en dat die sentrum nie ’n plek word waar diere-eienaars, wat nie meer hulle diere wil hê nie, net kom aflaai nie deur streng prosesse en prosedures in plek te sit.

Die sentrum het plek om sowat vier honde en 10 katte te huisves en is tans vol.

Volgens die verklaring, wil hul graag die kapasiteit uitbrei om meer diere te help, maar benodig hiervoor die gemeenskap se hulp.

Enige skenkings in die vorm van boumateriaal of finansies kan aan NLF gemaak word.

Coetzer het bygevoeg dat daar ’n groot behoefte vir dié soort van inisiatief bestaan.

“’n Spesiale dank aan al ons lede, gemeenskapslede, plaaslike ondernemings en ander organisasies wat help om hierdie projek ’n sukses te maak,” het Alida Podges, eienaar van Kromdraai Kennels, gesê.

NLF het die vrywilligers bedank wat hulle tyd opoffer om hierdie projek ’n sukses te maak.

Skakel 063 613 1214 as jy betrokke wil raak.

Bydraes kan inbetaal word by ENB, rekeningnaam: Northern Light Foundation, tjekrekeningrekening, rekeningnommer: 62901405763

Die gemeenskap kan ook aansluit by NLF en ’n maandelikse debietordervorm teken om by te dra tot verskillende projekte op Standerton.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button