Hoërskool Oosterland bied nasionale orkes-kampioenskap op Secunda aan
Belangstellendes kan nou al kaartjies koop.
Hoërskool Oosterland bied op Vrydag en Saterdag, 7 en 8 Oktober, in samewerking met die South African School Band Assosiation (SACBA) die nasionale orkeskampioenskap aan.
Hoërskool Oosterland is die enigste skool in Mpumalanga wat nog ’n orkes het.
Altesaam 11 skole het ingeskryf om aan die kampioenskap deel te neem in vyf verskillende afdelings.
Dié afdelings sluit in konsert-orkes, marsjeer-vertoningsorkes, parade-orkes, perkussie-orkes en tamboermajoor-orkes.
Die gehoor kan uitsien na minstens 40 items gedurende die twee dae.
Daar sal in elke afdeling ’n nasionale wenner aangewys word en die beoordelaars is uitgesoekte mense wat professors in musiek en die direkteur van die polisie-orkes insluit.
Van die orkeste wat gaan deelneem, kom van sover as Durban.
Carel Marais, die direkteur van Oosterland se orkes, het gesê al sy leerders het eers in die eerste kwartaal geleer hoe om ’n musiekinstrument te bespeel.
Kaartjies vir die nasionale orkeskampioenskap kos R30 per persoon vir die Vrydag en R50 elk vir die Saterdag.
Vir meer inligting, of om te bespreek, skakel die skool by 017 631 1091.



