Delmas Polisie kom tot die redding van nóg ’n kapingslagoffer
Van binne die gekaapte voertuig het ’n persoon om hulp geroep. Die vragmotorbestuurder was gevind, vasgemaak met toue en draad.
In nóg ’n kapingsvoorval is ’n vragmotor net buite Delmas gevind. Binne was die bestuurder met toue en draad vasgebind.
Volgens inligting was die vragmotor met ’n vrag mielies in die Noordwes Provinsie gekaap.
Die 47-jarige bestuurder was op Woensdag, 19 Oktober met sy vrag van Lichtenburg na Randfontein onderweg toe kapers, wat hulle as verkeersbeamptes voorgedoen het, toegeslaan het.
Die bestuurder van die vragmotor het met sy lewe daarvan afgekom danksy die wakker optrede van die Delmas Polisie en ’n privaat voertuigherwinningsmaatskappy.
Lede van die polisie en die herwinningspan het glo ’n ander gekaapte vragmotor op die R50 tussen Delmas en Bapsfontein agterna gesit toe inligting van die Lichtenburgse vragmotor deurgegee is.
Dié vragmotor sou glo ook op die R50 onderweg wees. Die Delmas Polisie het op die eerste toneel vir die volgende gekaapte vragmotor gewag.
LEES OOK: Police arrest employee and contractors at power station near Standerton
Pogings om die tweede gekaapte vragmotor tot stilstand te bring, het egter misluk en ’n jaagtog en ’n skietery het ontstaan.
Volgens die provinsiale kommissaris van polisie in Mpumalanga, brigadier Semakaleng Daphney Manamela, het lede van taktiese metodes gebruik gemaak om die vragmotor tot stilstand te dwing.
Drie moontlike verdagtes het uit die vragmotor gespring en die hasepad gekies. Een van die verdagtes is tydens die skietery gewond, maar sy twee makkers het weggekom.
Die gewonde verdagte is hierna onder polisiebewaking met ’n ambulans na ’n hospitaal geneem. Die vragmotorbestuurder is vasgebind in die voertuig gevind ná hy om hulp geroep het.
Die toename in kapingsvoorvalle het die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdade, die Valke, genoop om ’n mediaverklaring die lig te laat sien.
“Die aantal kapings in die provinsie is uiters kommerwekkend,” het kaptein Dineo Lucy Sekgotodi, mediawoordvoerder vir die Valke in Mpumalanga, gesê.
Sekgotodi het ’n dringende beroep op motoriste en vragmotorbestuurders gemaak om uiters bedag te wees.
Motoriste word gemaan om nie enige rylopers op te laai nie.
Hou verkeer vanuit die truspieëltjie dop en as enige verdagte voertuig opgemerk word, kan die polisie gekontak word met die maak, kleur en registrasie nommer van die voertuig, asook die plek waar jy is.
Ry verkieslik na die naaste polisiestasie. By verkeersligte moet daar genoeg spasie tussen jou en die volgende voertuig wees. Ignoreer vreemdelinge wat toet of probeer om jou te stop, veral snags.
Sekgotodi het verder gemaan dat motoriste onder geen omstandighede langs die pad moet stop nie, maar liefs tot by die volgende veilige plek moet ry.
By inkopiesentrums en parkeergebiede moet motoriste bedag wees op vreemdelinge rondom hul voertuie. Bly weg van die voertuig af en meld dit by die polisie of veiligheidspersoneel aan.
Kyk ook uit vir enige verdagte mense of voertuie wanneer jy jou woning nader.
“Onthou dat jou lewe belangriker as jou voertuig is. Moet liefs nie vyandiggesind teenoor die kapers optree nie en moet nie jouself teensit nie.
“Daar moet ook nie oogkontak met die kapers gemaak word nie. Hou soveel as moontlik spasie tussen jouself en die kapers, maar neem soveel detail as moontlik in,” het Sekgotodi verder laat hoor.
“Kom ons staan saam teen hierdie misdaad op. Saam kan ons meer vermag.”




