TRICHARDT – Laerskool Trichardt het vanaf 21 tot 23 Oktober hul 110 Jaar fees, om dié skool se 110de bestaansjaar te vier, aangebied.
Leerders en feesgangers het optredes van Juan Boucher, Rooksien en plaaslike sanger, ShoNeill, geniet en daar was genoeg prêt en vermaak vir oud en jonk.
Laerskool Trichardt het amptelik sy deur in 1912 geopen, hoewel die personeel glo dat dit dalk vroeër as ’n eenman-skool geopen is.
Die hoof, Andries Spies, het gesê Laerskool Trichardt is ryk aan geskiedenis en kan met groot name soos Grey, Paarl, Gim, Affies en Dundee geassosieer word.
LEES OOK: Standerton Trapklub hou kermisse ten bate van die ouetehuis
Van die geboue op die skoolgronde se randsteen is met sandsteen gedurende die Anglo Boereoorlog deur Italiaanse krygsgevangenisse met die hand gekap.
Spies het gesê van die interessante sake of voorvalle wat deur vorige hoofde in sy kantoor aangeteken is, is dat Jannie vier houe by die hoof gekry het omdat sy perd voor die klas gemis het en dat skole gesluit is vir redes soos die groot griep en oorlog in 1918 en die tweede wêreldoorlog in 1940.
Die fees is Sondag afgesluit met ’n erediens wat deur ds. Recardo Scholtz van die Evangelies Gereformeerde Kerk waargeneem is.
Die prefekte het ’n plaatjie met die skrif in Numeri 6:24-26 wat lui: ‘Die Here sal julle seen en julle beskerm …… en aan julle vrede gee.’ ingehuldig.
Dié skrif is die prefekte se wense vir die skool vir die volgende 10 jaar.




