11-jarige van Secunda ondergaan nog ’n oogoperasie
Secunda-kind doen beter sedert tweede operasie.
Lamaine van Rooyen (11) kon op Woensdag, 14 Desember, uiteindelik vir die tweede operasie gaan om haar linkeroog reg te maak.
Sy is by die Centurion Hospitaal vir Oë geopereer.
Die Ridge Times het al vanjaar verskeie kere oor Lamaine berig wat operasies aan beide haar oë moes kry.
Die gesin het nie ’n mediese fonds nie. Die gesin het al die geld vir haar operasies self ingesamel en is dankbaar vir die gemeenskap en barmhartige Samaritane wat gehelp het.
Lamaine het in Julie die eerste operasie aan haar linkeroog ondergaan, maar moes nou weer ’n operasie kry omdat die ogie nog nie heeltemal reg is nie.
Haar ma, Bronwyn Botha, het gesê hulle het aanvanklik gedink alles het goed afgeloop met die operasie, maar die volgende oggend, kon Lamaine nie haar regter oog oopmaak nie.
“Ons het haar ogie daagliks skoongemaak en die Saterdag kon sy steeds nie haar oog oopmaak nie,” het Botha vertel.
“Ons het die dokter geskakel en hy het gesê ons moet haar terugneem.
“Hy het haar linkeroog oopgemaak en dit skoongemaak en gesê sy het ‘Pink Eyes’ en infeksie in beide haar oë.”
Die dokter het vir Lamaine oogdruppels voorgeskryf en teen Maandag, 19 Desember, was beide Lamaine se oë baie beter en sy kon vir die eerste keer sedert die operasie albei oë oopmaak.
Sy is op Dinsdag, 20 Desember weer dokter toe vir ’n opvolg-ondersoek en die dokter is gelukkig met haar vordering.
Lamaine sal in Januarie weer ’n dokter op Trichardt besoek sodat hy die steke by haar ogie kan verwyder.
As Lamaine se linkeroog heeltemal herstel het, sal dokters besluit of dit nodig is om haar regteroog ook te opereer.
Sy moet nou weer ’n nuwe bril kry om meer beskerming teen lig te bied omdat haar oë baie sensitief is.
Botha het die gemeenskap en almal wat hulle ondersteun het of finansieël ’n bydrae gelewer het, bedank, asook die hospitaal in Centurion vir die goeie diens.
Lamaine moet vir die volgende ses maande medikasie en oogdruppels gebruik wat die gesin sowat R1 000 maandeliks gaan kos.
Belangstellendes wat die gesin wil ondersteun, of ’n bydrae wil maak, kan die webwerf, https://www.backabuddy.co.za/lamaine-du-plessis-2022 of https://www.facebook.com/100010507713462/posts/1694276737599234/?flite=scwspnss besoek of geld inbetaal by Capitec Bank, LR van Rooyen, spaarrekening, rekeningnommer – 195 550 4669.
Vir meer inligting, skakel Botha by 082 269 5541.



