Gholfspelers op Standerton hou mekaar op die tone in wedywerings
Die baan is voorts in ’n puik toestand en dit gaan goed met die klub, met die ledetal wat groei.
Johan Griesel het die septer op Oujaarsdag by die Standerton Buiteklub geswaai met ’n puntetelling van 39.
Altesaam 16 spelers het in dié IPS-kragmeting meegeding.
Nico Lombard en Jannie Nichols het albei op 38 te staan gekom, gevolg deur Patrizia Lombard, Casper Roux, Werner Mouton, Phillip du Preez en Joré Nortjé wat elk 34 aangeteken het.
Johan Brink het 33 op die telkaart ingevul en Vivian Sieger 32. Nichols en Aldo Arnaldi het albei ’n spog-twee behaal.
Werner Mouton, gholfkaptein, het die afgelope seisoen se aktiwiteite kortliks opgesom. Die klub wat langs die Vaalrivier is, sorg vir ’n praguitsig.
ALSO READ: Gholfspelers ding mee op Standerton
Hulle moes in 2020 gehoor aan die Covid-19 regulasies gee en selfs ’n koeldrank by die klub moes by wyse van ’n elektroniese oorbetaling gekoop word.
Nadat alles na normaal in 2021 teruggekeer het, het nuwe lede aangesluit.
“Dit was seker maar om uit die huis te kom en goeie geselskap te kom geniet,” het Mouton gesê.
Die baan is voorts in ’n puik toestand en dit gaan goed met die klub, met die ledetal wat groei. Verskeie goeie prestasies is ook behaal.
Ter afsluiting is elke lid en onderneming, wat deel uitmaak van die klub, vir hul ondersteuning bedank.







