CrimeLocal news

Kolonel met grondige ondervinding gee pas aan by Standerton Polisiestasie

Hy is steeds aan die studeer vir ’n LLB en spog met tersiêre kwalifikasies soos ’n nasionale diploma in polisie, hoër diploma in polisiebestuur, polisiebestuursgraad en B.Com Regte.

Kolonel Josias Keith Africa is sedert 1 Desember verlede jaar die nuwe stasiebevelvoerder van Standerton Polisie.

“Ek is ’n Afrikaner,” het die kolonel bloot gesê toe gevra is of hy die onderhoud in Engels sal verkies.

Dié Wes-Kapenaar, al die pad van Hermanus af, het die Struisbaaipolisiestasie in 1991 oopgemaak nadat hy sy opleiding as konstabel aan die polisiekollege voltooi het.

Na drie maande is hy ontplooi na die Vaaldriehoek se Vereeniging, Boipatong, Everton en Sharpeville, waar hy eerstehands kennisgemaak het met polisiëring in die oorgang na demokrasie.

Kolonel Africa het ook in Khayelitsha diens in daardie onstuimige jare gedoen.

Hy het sy loopbaan op Hermanus voortgesit as skofbevelvoerder en seksiekommandant en is na kaptein in 2001 bevorder.

Sy huwelik met Lucille, ’n nooi Michaels, het in 1996 op Genadendal plaasgevind terwyl hulle huis op Hermanus opgesit het.

Twee seuns is uit die huwelik gebore, nou reeds uit die huis, wat albei studeer.

“Hulle het nie in my voetspore gevolg nie,” het hy droogweg opgemerk.

Die regs- en rekenmeesterprofessie is waarin hulle tans hul bekwaam.

Daarna is die Africas na Bredasdorp, sy geboorteplek, verplaas waar hy hoof van misdaadvoorkoming vir ’n tydperk van ses maande was.

’n Offisierskursus is tussendeur in die Paarl gevolg.

Kolonel Africa het skouers geskuur met groot politieke name soos President George W. Bush (sr) en President Nelson Mandela.

Hy was in 2001 vir twee maande in Sandton, Johannesburg by die World Sustainable Development Centre in bevel van die parkeergebied, met 30 beamptes wat toegesien het dat alles vlot verloop.

“Ek was ’n jong kaptein en alles het goed gegaan,” het hy gesê.

Die berge en see se wekroep het vrugte afgewerp toe hy ’n oproep ontvang het van die areakommissaris oor ’n vakature op Kleinmond.

Hy het die pos as stasiebevelvoerder nie van die hand gewys nie.

Ná Kleinmond, het die Africas, met Lucille wat bevordering gekry het as klerk in die polisiediens, na Brits, Noord-wes verhuis.

Hulle het na die Kaap in 2007 teruggekeer en Hermanus was waar hy tot 2012 sektorbevelvoerder was.

Kolonel Africa het die portfolio’s van stasiebevelvoerder en ’cluster commander’ behartig en ook op Stanford diens as stasiebevelvoerder gedoen.

In die jaar 2015 het hy skouer aan die wiel gesit en vir poste aansoek gedoen en slegs een oproep is vanuit Mpumalanga ontvang.

Hy was op die kortlys vir ’n pos en is bevorder na luitenant-kolonel en Balfour Polisiestasie het in 2017 onder sy leiding vier plaasmoorde, binne twee ure, opgelos.

Die misdadigers is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Sy vrou is intussen ook bevorder en teen die tyd wat die pandemie die land in 2019/2020 getref het, was hy operasionele kommandant op Loskopdam, naby die grens van Limpopo en Mpumalanga.

Hulle tuiste was Middelburg op dié stadium en Vispol en die District Operational Command Centre was waar hy sy insette gelewer het.

Die kolonel het ook op Bethal as stasiebevelvoerder diens gedoen.

Altesaam agt kandidate het om die pos op Standerton aansoek gedoen en sy bewese rekord het die deurslag gegee.

Hy is steeds aan die studeer vir ’n LLB en spog met tersiêre kwalifikasies soos ’n nasionale diploma in polisie, hoër diploma in polisiebestuur, polisiebestuursgraad en B.Com Regte.

Die volgende rang waarna hy mik, is sweerlik brigadier.

“Ek het ’n passie om met mense te werk en hou daarvan om leiding te neem,” het hy mee afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button