Motorfietsryers van Delmas besoek Boksburg-slagoffers
“Natuurlik kan geen mens die hartseer ongedaan maak nie, maar ons wou graag iets gee om te wys dat ons as die Revolution Chapter omgee en bewus is van hul seer.”
Die Wild Bunch se Revolution Chapter-lede op Delmas het onder leiding van hul president, Dewald de Kock, dit op hul harte gevoel om die toneel van die Boksburgse Oukersdag-tragedie te besoek.
“Dié hartseer gebeure het ons laat besluit om iets te gee en ’n bietjie verligting te bring aan dié wat so kort voor Kersfees so ’n groot verlies gely het,” het Monica Bauer, Delmas inwoner en skakelbeampte van die Wild Bunch se Revolution Chapter, gesê.
“Om Kersfees te moes vier met die wete dat daar mense is wat min of niks gehad het nie en boonop geliefdes aan die dood afgestaan het, het ons laat besluit om bystand te lewer en iets aan die gemeenskap terug te gee,” het Bauer bygevoeg.
Die Revolution Chapter het op die oggend van 27 Desember op hul brulmasjiene vanaf Delmas vertrek en by die woning van Jan en Bianca van Schalkwyk in Kempton Park bymekaar gekom. Nege motorfietse en twee ondersteuningsvoertuie het die tog meegemaak.
“Natuurlik het ons ook so ’n bietjie pret gehad, maar ons doel was om die werklikheid van die toneel te besoek. Geen mens kan die hartseer ongedaan maak nie, maar ons wou graag iets gee om te wys dat ons as die Revolution Chapter omgee en bewus is van hul seer.”
Die land was tot stilstand geruk met die skoknuus van ’n gastenkwa wat onder ’n brug in Hospitaalweg, Plantasie, Boksburg vasgesteek en kort daarna ontplof het.
Die nuus het vroegoggend op 24 Desember gebreek.
Volgens inligting het, nadat die tenkwa onder die brug tot stilstand gekom het, inwoners van naby, sowel as nuuskieriges nader aan die toneel beweeg om te sien wat gebeur het.
Die tenkwa het egter kort hierna ontplof en tot groot lewensverlies, vele beserings en skade aan omliggende eiendomme wat die Thambo Memorial Hospitaal insluit, gelei.
Die Revolution Chapter het onder andere Rosetta Brits, wie vier van haar kinders, Jamel Eales (14), Adrian (12), Sebastian (12) en Gerrie Brita (10) in die ontploffing verloor het, besoek en aan die oorblywende drie sibbe elk ’n stel klere, kruideniersware en skryfbehoeftes oorhandig.
Flip Stoltz van die Jagged Skulls het vir Brits ’n gebed gedoen.
“Dit was hartroerend toe Rosetta ons meedeel dat die gemeenskap reeds so baie vir hulle gedoen het, maar dat niemand nog vir hulle ’n gebed gedoen het nie.”
Daar is ook aan die Geduld-gesin besoek gebring. Geraldo Geduld het sy vrou Elize en sy seun Janeal (19) tydens die ontploffing aan die dood afgestaan.
Die Revolution Chapter bedank in besonder vir lede Jan en Bianca van Schalkwyk vir al hul hulp en die aankoop van die vliegtuigkaartjies vir Geduld vir sy terugkeer na die Kaap.
“Die besoek het elkeen van ons lede diep geraak en het ons oë vir die realiteit van nie net die tragedie nie, maar ook die intense swaarkry en armoede van baie van die inwoners van daardie omgewing, laat oopgaan,” het Bauer afgesluit.
Teen druktyd het die dodetal in die Boksburg-tragedie tot 37 gestyg wat 12 gesondheidswerkers van die Thambo Memorial Hospitaal insluit. Talle beseerdes is steeds in die hospitaal.






