CrimeLocal newsStreeknuus

NTT Toyota op Delmas so byna R5m se voertuie kwyt

Die luukse voertuie in die rowers se visier was vier Toyota Fortuners, twee Toyota Hilux GD6’e sowel as twee Toyota Land Cruisers.

Luukse voertuie ter waarde van R5m was glo reeds gereed om aan die hande van ’n onbekende aantal verdagtes uit die perseel van NTT Toyota in Sarel Cilliersstraat op Delmas te vertrek.

Volgens inligting vanaf die polisie, was daar met hul aankoms op NTT Toyota se perseel reeds agt van voertuie oopgesluit, paneelborde oopgebreek en sommige enjins het geluier.

Dié voertuie was glo deel van ’n beplande massiewe rooftog wat in die vroeë oggendure van 2 Februarie by NTT Toyota plaasgevind het.

Volgens ’n mediaverklaring van Brigadier Selvy Mohlala, mediawoordvoerder vir Mpumalanga SAPS, het die vinnige optrede van die polisie sowel as ’n privaat veiligheidsmaatskappy daartoe gelei dat die voertuighandelaar miljoene rande se skade gespaar is.


Deure oop en paneelbord gebreek. Nog ’n luukse Toyota voertuig wat gereed was om deur verdagte rowers vanaf die NTT Toyota motorhandelaar op Delmas gesteel te word.

Streeknuus het met dié veiligheidsmaatskappy kontak gemaak. CamFX Sekuriteit behoort aan Cameron McAdam, wie ‘n bekende inwoner van Delmas is en ’n kenner op die gebied van veilgheidskameras.

Danksy CamFX Sekuriteit se ultra-moderne tegnologie wat bewegingsopsporing insluit, kon hulle vinnig alarm maak.

“Ons het beweging buite die NTT-perseel opgetel. Dit was die verdagtes wat op daardie stadium besig was om met ’n hoekslyper slotte en hekke by die perseel oop te maak.

“Ons het onmiddellik die Delmas Polisie sowel as AAA Sekuriteit van die bedrywighede in kennis gestel,” het Andrew MacAdam van CamFX Sekuriteit gesê.


Een van die Toyota Fortuners wat op die rowers se ‘inkopielys’ was.

Die paneelborde van die voertuie was reeds oopgebreek, waarskynlik in ’n poging om die satelliet-opsporingtoestelle op te spoor.

Die luukse voertuie in die rowers se visier was vier Toyota Fortuners, twee Toyota Hilux GD6’e sowel as twee Toyota Land Cruisers.

Die verdagtes het egter op die vlug geslaan. Volgens die polisie is hulle intussen steeds op soek na leidrade wat tot die inhegtenisname van die verdagtes kan lei.

Die polisie op Delmas vra die publiek wat moontlik oor inligting rakende die beplande roof beskik om Kaptein John Mothupi, takbevelvoerder van die speurafdeling, op 082 492 6862 te kontak.


LEES OOK: Woman from eMbalenhle finds strange blobs in soft drink bought at local tuck shop


Die stop-misdaad nommer 08600 10111 kan ook geskakel word of inligting kan deur die MySAPSapp verskaf word.

Die polisie verseker dat alle inligting as vertroulik beskou sal word.

Die provinsiale kommissaris van die polisie in Mpumalanga, Luitenant Generaal Semakaleng Daphney Manamela, het die vinnige optrede van die veiligheidsmaatskappy en die polisie geloof.

“Ons sal seker maak dat daar intensiewe aandag aan die ondersoek gegee word tot en met die verdagtes aangekeer is,” het Manamela gesê.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button