Local news

Stannies se Annemarie gaan voluit met fotografie

Die Canon 77D is haar derde kamera en met sy 100-400mm lens is sy in haar element.

’n Boervrou wat naam as sportfotograaf gemaak het, het ook ander vaardighede onder die knie gekry.

Annemarie Schoeman is Stannies se fotograaf wat haar inleef in die neem van foto’s en soms haar kollegas onverwags betrap wat by tye liefs nie openbaar gemaak moet word nie.

Glo dit of te nie, hulle kan dan vir lank daarmee afgepers word.

Annemarie plaas haar galery van sportgeleenthede op Facebook en ’n kompliment van ’n klein rugbyspelertjie spoor haar bloot aan om herinneringe vir ouers en kinders vas te lê.

“Waar was tannie Annemarie dan,” het hy gevra.

“As ek die drie druk, is sy daar.”

Sy is ook finansiële beampte en doen administratiewe werk by Laerskool Standerton.

Annemarie is ’n boorling van Standerton en SHS is haar alma mater.

Haar man, Petrus, boer met skape uit op die Johannesburg-pad en hul seun, Hermanus is ook doenig by die boerdery-aktiwiteite.

Hul dogter, Simoné is ’n leerder by Hoër Volkskool Heidelberg.

Die geboorte van haar kinders was beslis ’n hoogtepunt in haar lewe.

Sy doen nie gereeld fotosessies nie, hoewel haar teenwoordigheid in aanvraag is.

“Ek glo aan emosie, dit gaan nie oor geld nie,” het sy gesê.

“Ek hou daarvan om die gesigsuitdrukkings van die kinders dop te hou.”

Annemarie se veelsydigheid word weerspieël in haar foto’s van diere. ’n Wildtuin besoek is nie ’n wildtuin besoek as die kamera nie saamgaan nie.

Sy het sonder enige formele opleiding fotografie baasgeraak en waag ook haar hand aan ontwerpe vir Facebook.

Sy het ook ‘n hele paar rekenaarprogramme ook onder die knie gekry.

“Ek kan kyk na ’n prentjie en sien waar alles moet inpas.”

Dit het begin met haar kinders wat op laerskool aan sport deelgeneem het.

Ma het gaan kyk, foto’s van haar spruite en die ander geneem en die belangstelling van ouers het gevolg.

Die Canon 77D is haar derde kamera en met sy 100-400 lens is sy in haar element. Sy het nog nooit vir ’n kompetisie ingeskryf nie.

Tydens ’n onlangse besoek aan St Helenabaai met ’n vriendin en Simoné, is ’n seerobbetjie, skaars twee dae oud, op die rotse naby die ligtoring gewaar.

Hulle wou gaan skulpe op die strand optel en die geluide van die diertjie het hulle laat besef dat daae iets fout was.

“Sy ma het hom weggegooi en die naelstringetjie was nog klam,” het sy vertel.

Die uiteinde van die storie was dat die verstoteling gedink het, hulle was sy ma.

Ongelukkig kon hy nie in ’n tas gepak word en saam op die vliegtuig teruggeneem word nie.

“’n Mens beleef slegs eenkeer in jou lewe so iets.”

In haar vol lewe maak sy tyd om herinneringe te koester.

Annemarie het redelik nagedink of daar iets op haar emmerlys is en kon nie iets opper nie.

“Leef vir vandag en moenie tyd mors om oor die toekoms te bekommer nie,” het sy mee afgesluit.

“Vandag is hier en môre kom nog.”




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button