Local news

Matrikulant van Hoogenhout op Bethal verbaas dokters na kankergewas verwyder is

Hoogies-leerder is reeds terug op netbalbaan en krieketveld.

Megan Martin, ’n Graad 12 leerder aan Hoërskool Hoogenhout, is dankbaar dat sy vandag steeds kan loop en beide haar bene het.

Dié jong netbalspeler het dokters verbaas toe sy, nadat sy ’n kankergewas in haar lies gehad en ’n operasie ondergaan het, binne twee weke weer kon loop.

Haar dokters en spesialiste het in Maart verlede jaar, toe sy vir die operasie gegaan het, voorspel dat eers na ses weke op krukke sou wees.

Na ’n lang pad waartydens Megan 33 sessies van bestraling vanaf Maandae tot Vrydae moes kry, kon sy uiteindelik weer teruggaan skool toe.


LEES OOK: Gawie Marx oorlede na gewelddadige aanval op Morgenzon


Sy het nie op haar laat wag nie en het sommer dadelik by die netbalspan aangesluit en het ook vir Hoogenhout se eerste dogters krieketspan begin speel.

Sy het ook klubkrieket gespeel toe sy verlede jaar vir die Bethal Bears span uitgedraf het.

“Haar herstelproses is ’n wonderwerk,” het haar pa, Jules Martin, gesê.

“Ons het nie gedink sy gaan weer kan loop nie. Na die operasie het die dokter vir ons gesê as hy 2mm dieper moes sny, sou hy haar been moes amputeer.

“Ons het ’n groot Here, ons het baie gebid in die tyd.”

Megan is dankbaar dat sy nou normaal kan aangaan met haar lewe.

Haar ma, Jodene, is in 2020 met borskanker gediagnoseer, maar sy het ook die stryd teen kanker gewen.

In haar vrye tyd geniet Megan om tyd met vriende of haar familie, in die besonder saam met haar jonger broer, Eythan, te bestee.

Sy wil volgende jaar as sy klaar is met skool, verpleegkunde aan die Universiteit van Potchefstroom gaan studeer.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button