Local news

Ma en baba ongedeerd na ongeluk op R50

“Dit was nog donker en skielik het ek net die voertuig van voor sien aankom. Dit het reg op my voertuig afgepeil en al waaraan ek kon dink, was my baba wat reg agter my op die passasiersitplek gesit het.”

’n Jong ma van Delmas en haar agt-maande-oue babadogter was na Limpopo op pad vir die Paasnaweek, maar dié planne was etlike kilometer buite Delmas in die wiele gery nadat hulle op 7 April omstreeks 04:45 op die R50, rigting Bapsfontein, in ’n ongeluk betrokke was.

Volgens die ma was sy en haar dogter na familie onderweg.

“Dit was nog donker en skielik het ek net die voertuig van voor sien aankom. Dit het reg op my voertuig afgepeil en al waaraan ek kon dink, was my baba wat reg agter my op die passasiersitplek gesit het,” het die ma Streeknuus meegedeel.

Volgens die vrou het sy bly uitswenk, maar die ander voertuig, ‘n rooi VW Golf, het steeds op haar afgekom.


Die ma maak seker dat haar agt-maande-oue babadogter in haar karstoeltjie op die agterste sitplek iets te ete kry.

Die Golf het haar voertuig aan die bestuurderskant getref wat veroorsaak het dat sy byna beheer oor haar voertuig verloor het.

Haar motor het neus in die teenoorgestelde rigting tot stilstand gekom. Die Golf het ongeveer 150m verder in die pad tot stilstand gekom.

Die ma het aan Streeknuus gesê dit was van die benoudste oomblikke in haar lewe, want haar baba was aan die kant waar die Golf haar VW Polo getref het.

Sy was nie in die botsing beseer nie en kon byna onmiddellik vasstel dat haar baba steeds snoesig warm en veilig in haar karstoeltjie vasgegespe was.


Road safety tips for your day-to-day trips


’n Lid van die DelmasValke Buurtwag, Chris Rheeder, was op pad na ’n visvang naweek saam met vriende toe hy op die ongeluk afgekom het.

Chris, sy seun Hennie en ’n onbekende inwoner van Delmas het bystand gelewer met verkeerbeheer, want dit was steeds donker en die rooi Golf het gedeeltelik op die R50-padoppervlak gestaan.

Die baba se pa het intussen ook op die toneel aangekom. Terwyl die mamma vir haar baba ontbytpap gevoer het, het die baba vol glimlaggies vir haar pappa gekoer.

’n Ambulans was ontbied om te verseker dat ma en baba nie beserings opgedoen het nie.


Die VW Polo waarin ma en baba na Limpopo op pad was.

Die jong ma het die mense op die toneel wat haar en haar kind na die ongeluk te hulp gesnel het, opreg bedank.

Albei voertuie was erg beskadig en moes deur insleepdienste van die toneel verwyder word.

Die Delmas polisie het om 05:40 op die toneel aangekom. Die oorsaak van die ongeluk was nog onbekend en word deur die polisie ondersoek.

Die bestuurder van die Golf is in hegtenis geneem en staar ‘n aanklag van dronkbestuur in die gesig.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button