Local news

Dr Leon Pelser wen gesogte foto-toekenning

Kriel-fotograaf beplan om weer in te skryf vir 2023 se toekenningsgeleentheid.

Dr. Leon Pelser, ’n lid van die Hoëveld Fotografieklub, is vroeër in April by die Africa Photo Awards 2022 as die fotograaf van die jaar aangewys.

Hy het ook die afdeling vir abstrakte foto’s van dié gesogte toekenningsgeleentheid gewen en al sewe sy foto’s wat hy in vier afdelings ingeskryf het, was onder die top 10 foto’s.

Sy wenfoto in die abstrakte afdeling, was ’n groep tarentale wat hy in 2022 tydens ’n vakansie by Marlothpark afgeneem het.

“Ons het korrels vir die diere gegooi en ek het met my kamera gesit en wag,” het Pelser vertel.

“Eers het die sebras kom vreet, toe die bokke, toe die vlakvarke en toe het die tarentale gekom.

“Hulle het almal gelyk gepik om iets te kry en ek het net gewag dat een van hulle hul koppe moes oplig en toe het ek my foto.”

Hy het dié wenfoto met sy Sony Alpha NEX-7 kamera geneem.

Pelser het voor die Covid-19-pandemie ook vir dié toekenningsgeleentheid, waaraan fotograwe vanaf 46 lande deelneem, ingeskryf en die landskapafdeling gewen met ’n foto wat hy met ’n hommeltuig geneem het.

Hy beoefen al vir 20 jaar fotografie as ’n stokperdjie terwyl hy voltyds sy algemene dokterspraktyk op Kriel behartig.


Dr Leon Pelser is onlangs by die Africa Photo Awards 2022 as fotograaf van die jaar aangewys en het die afdeling vir abstrakte foto’s gewen.


Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button