Local newsStreeknuus

Ma en vierjarige seun van Cullinan is beide met kanker gediagnoseer

Marinet is ten spyte van haar en Marlo se kankerdiagnose steeds die Here dankbaar. Sy glo haar seuntjie is ’n engel op aarde iwie se doel dit is om ander weer in wonderwerke te laat glo.

Wat begin het as oor- en tandpyn by haar seuntjie, het gou in die grootste nagmerrie vir ’n ma van Cullinan verander.

Die hartseer gesiggie van ’n klein seuntjie met ‘n massiewe vergroeisel aan die regterkant van sy gesig het baie simpatie op sosiale media gelok.

Dié seuntjie is Marlo Goosen van Cullinan. Sy mamma, Marinet Janse van Rensburg, is ’n enkelma en tuis is daar nog ’n ouer sussie, Megan (15) en boetie, Pieter (14).

Marlo se pad van pyn en onsekerheid het in Desember begin. Besorg oor tandpyn en met chroniese oorinfeksie as deel van hul familie-geskiedenis, het Marinet hom na haar huisdokter geneem.


Hier is Marlo Goosen toe die gewas nog baie klein was.

Die dokter het ’n reeks antibiotika in Januarie voorgeskryf, opgevolg deur nog een saam met kortisoon, maar Marlo wou nie gesond of selfs beter word nie.

Met Marlo terug skool toe, het die skool Marinet gekontak met die moontlikheid dat Marlo pampoentjies het.

Omdat dié siekte hoog aansteeklik is, was hulle weer terug dokter toe. ’n Sonar op 17 Maart het ’n warthin-gewas gediagnoseer.

Volgens Marinet moes Marlo, op aanbeveling van haar dokter, na Steve Biko Hospitaal in Pretoria gaan vir ’n MRI-skandering. Daar aangekom, was die MRI-masjien egter buite werking.


Marlo Goosen wat met kanker gediagnoseer is.

Marlo is op 16 Maart in die Nelson Mandela Kinderhospitaal opgeneem en die MRI-skandering is gedoen.

Volgens Marinet was die uitslae na ’n week steeds nie beskikbaar nie en was sy rasend van bekommernis oor haar kind.

Marlo se gewas het aansienlik groter geword en hy het baie pyn verduur.

“My hart het gebreek vir my kind, ek was baie bekommerd, want Marlo kon nie meer glimlag nie. Hy het gesukkel om te sluk en kon nie meer behoorlik eet nie.


Marlo is baie siek, maar kan steeds ’n hartjie met die handjies vir die kamera maak.

“By herhaaldelike navrae het ons uiteindelik gehoor dat dit ’n carotid-gewas is en Marlo was weer op 30 Maart in die Nelson Mandela Kinderhospitaal opgeneem.”

Onsekerheid het geknaag en ’n biopsie het bevestig dat die gewas groter word en na binne versprei.

“Marlo was steeds in konstante pyn,” het Marinet gesê.

’n Trageotomie is toe gedoen waartydens ‘n buisie in die lugpyp aangebring is as voorbereiding vir wanneer Marlo nie meer sou kon asemhaal nie. Voedingspypies het gevolg, want Marlo kon nie meer self eet nie.


Marinet Janse van Rensburg en haar seun, Marlo Goosen. Beide is met kanker gediagnoseer.

“Marlo moes oorgeplaas word na die Johannesburg Algemene Hospitaal, maar toe ons daar aankom, het die hospitaal nie eens van hom geweet nie”, het Marinet gesê.

“Ek behoort nie aan ’n mediese fonds en dus was dit maar weer terug Nelson Mandela toe.”

Intussen is ’n port ingeplant waardeur chemoterapie toegedien moet word.

“Sonder ’n mediese fonds is dit baie moeilik. Jy weet jou kind moet dringend die regte hulp kry, maar hoe gemaak?”


Marlo Goosen (4) en mamma, Marinet Janse van Rensburg, is beide met kanker gediagnoseer.

’n Groep, Pray for Marlo Goosen, is op Facebook begin. Marinet moes werk om vir die twee ander kinders by die huis te sorg. Die kostes het dus opgeloop.

Op die Facebookgroep was die dringendheid van ’n ambulans vir vervoer na Steve Biko aangebring en binne etlike ure het ’n weldoener die volledige bedrag inbetaal en kon Marlo met ER24 vanaf Johannesburg na Pretoria vervoer word.

Intussen het ’n tweede groot skok gevolg. Marinet het las gehad van ’n knop in haar bors. Sy het ’n biopsie laat doen en die uitslae is positief vir borskanker.

Dus, op 5 Junie is Marlo in Steve Biko opgeneem en mamma Marinet het bevestiging gekry dat sy borskanker het.


Marlo Goosen en sy mamma, Marinet Janse van Rensburg.

“Ek was platgetrek, verslae en het nie geweet wat om verder te maak nie.”

Marinet was egter weer sterk en haar positiewe self die volgende dag.

“Ek moet sterk wees en ter wille van Marlo en my ander twee kinders by die huis, moet ek aangaan,” het sy Dinsdag aan Streeknuus gesê.

Marlo se chemo-behandeling het ook op 6 Junie afgeskop. Vooraf is die diagnose egter vanaf ’n onskadelike gewas na ’n aggressiewe vorm van kanker (embroyonal rhabdomyosarcoma) verander.


’n Baie siek, maar moedige Marlo Goosen.

Die moontlike verspreiding van Marlo se kanker sou ook bevestig word, maar dit sou glo wel reeds fase drie of vier kanker wees.

Teen druktyd kon daar ook nog nie enige verdere beplande behandeling of moontlike operasies bevestig word nie.

Marinet het ten spyte van haar kanker diagnose en dié van klein Marlo steeds vir God dankie gesê.

“Sonder Hom sou ek nie sover kon kom nie. Marlo se siekte het my nader aan die Here gebring. Ek glo dat Marlo ’n engel op aarde is wat ten doel het om my en ander mense weer aan wonderwerke te laat glo en ons geloof te versterk.”

Marinet het voorts haar werkgewer, die Genesis K9-groep van Pretoria, bedank vir hulle begrip en bystand.

“Dankie ook aan vriende uit alle oorde, die Marlo-gebedsgroep wat help met geldinsameling en wat Marno se vordering so gereeld opdateer, asook die onbekende weldoener wat ER24 se ambulanskoste ten volle betaal het. Spesiale dank ook aan Scharon Magerat.”

Marinet het ook gesê dat Marlo se pappa bystaan en dat sy baie dankbaar is.

“Ek voel ook vir hom en sy familie baie jammer. Baie dankie ook aan my eie ma en pa wat so getrou die ouer kinders by die huis skool toe ry en versorg. Vir elkeen se gebede, seker die grootste dankie, die krag van gebed moet nooit onderskat word nie”.

Enige iemand wat ’n bydrae wil maak tot Marinet se uitgawes, kan skenkings in haar rekening inbetaal.

“Ek weet nie wat die toekoms inhou nie en elke rand wat geskenk word, word opreg waardeer.”

Haar rekening besonderhede is:
Capitec spaarrekening.
Rekening naam: Miss M JV Rensburg.
Rekening nommer: 133 103 9167.



At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button