Local news

NG Kerk Goedehoop het nuwe leraar gekry

Diederich glo in wonderwerke en skrifgetroue leringe.

Ds Diederich Kleynhans glo dis ’n wonderwerk dat hy vandag nog leef nadat hy in 2005 ’n oordosis dwelms ingeneem het en verlam was.

Hy het in November verlede jaar amptelik by die NG Kerk Goedehoop-gemeente begin as dié kerk se nuwe leraar.

Hoewel Kleynhans al in sy laerskooljare gevoel het dat die Here hom geroep het vir die bediening, het sy lewe eers ’n paar wye draaie geloop voordat hy besluit het om teologie te studeer.

Hy het op Ellisras in Limpopo grootgeword en is na skool Engeland toe waar hy deur-tot-deur verkope gedoen en Engeland verken het.


ALSO CHECK:  Rondekerk en NG Kerk Trichardt nou een


Hy het later teruggekeer na Suid-Afrika waar hy vir dieselfde onderneming gewerk het deur werwing en bemarking in Pretoria te doen.

Dit is in hiérdie tyd in sy lewe wat Kleynhans ’n oordosis dwelms geneem het. Dit was ook die eerste en enigste keer in sy lewe wat hy dwelms gebruik het.

“Ek het te veel geld gehad en die verkeerde vriende,” het hy vertel.

“Ek was by ’n partyjie om ons nuwe kantore se opening te vier en ek het baie gedrink die aand.


ALSO CHECK: NG Kerk op Charl Cilliers is bekommerd oor plaasmoorde


“By die partytjie reeds het dwelms die rondte gedoen. Een van die ouens het vir my gevra of ek dwelms wil bestel, want hy het kontakte. Ek het toe vir myself 1g kokaïen bestel.”

Kleynhans het later die aand, nadat hy by die huis gekom het, badkamer toe gegaan om die kokaïen te snuif.

“Ek onthou nog ek het daardie aand gedink, die goed doen niks nie. Ek is weer badkamer toe en het nog gaan snuif. Ek het op die bed gaan lê en aan die slaap geraak.”

Kleynhans se meisie van destyds het hom gegroet die aand voordat hy gaan slaap het. Sy het die volgende oggend 07:00 weer teruggegaan na sy woonstel en toe sy sien hy slaap steeds, besluit om hom nie te steur nie.


ALSO CHECK: NG Kerk loods Ligdraer-projek op Secunda


Dit was eers ure later, toe Kleynhans se ouers hom nie in die hande kon kry nie, dat hulle haar geskakel en gevra het om na sy woonstel te gaan om ondersoek in te stel, dat sy besef het iets is fout.

Hy was toe reeds in ’n koma weens die oordosis dwelms en het bykans in sy eie braaksel verstik.

Hy is na die hospitaal gehaas waar hy vir 39 dae onder verdowing moes bly.

Toe Kleynhans uiteindelik uit die hospitaal kon kom, moes hy vir rehabilitasie gaan en van voor af leer loop, praat, eet, lees en om enige iets vir homself te doen.

Gedurende die hele 2006 het Kleynhans by sy ouers in Ellisras gewoon en was gereeld hospitaal toe omdat hy toe baie gesukkel het met sy bloeddruk.

Hy was vir ’n lang ruk nog in ’n rolstoel en op krukke en het in dié tyd besluit om teologie studeer.

Kleynhans het ook in dié tyd sy vrou, Anja, ontmoet en vandag is die egpaar getroud met drie dogters.

Na sy studies het Kleynhans vir agt jaar by ’n gemeente op Bloemfontein bedien en vir vyf jaar op Jan Kempdorp voordat hy na Secunda verhuis het.

Sy droom vir die kerk is om terug te keer na ’n Skrifgetroue lering. In sy vrye tyd geniet hy dit om te lees of tyd met sy gesin deur te bring.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button