Dokters ontdek gewas op 8-jarige van Secunda se brein
Om see toe te gaan is hierdie dogtertjie se grootste wens.
Luané Serfontein (8) gaan binnekort met bestraling begin nadat ’n gewas op die stam van haar brein ontdek is en dat dit terminaal is.
Luané se ma, Rika Serfontein, het haar in Mei dokter toe geneem nadat sy gesien het Luané sukkel om haar linkerhand te gebruik terwyl sy aantrek.
Dokters by die Witbank Provinsiale Hospitaal het Luané vir ’n rekenaartomografie-skandeing (CT) en x-strale gestuur en gesê sy het weens ’n bloedklont op die brein ’n beroerte gehad.
Luané het intussen ’n spesialis by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg gaan sien wie gesê het dit is nie ’n bloedklont nie, maar ’n gewas.

Die dokter kan nie opereer nie omdat die gewas op ’n gevaarlike plek sit. Hulle wag nou om te hoor wanneer sy met bestraling kan begin.
Luané het verlede jaar, nadat sy die storie gehoor het van Marno Muller, R17 000 vir sy hospitaalonkostes ingesamel met strikkies wat sy verkoop het.
Marno, ‘n kleuter van Brakpan, het by die dood omgedraai toe sy kappietoutjie aan die glyplank by die kleuterskool vasgehak het.
Vriende van die Serfontein-gesin het nou ’n projek begin waar hulle bandjies verkoop om geld in te samel vir Luané se onkostes as haar ouers haar na Johannesburg moet neem om die dokters te sien.
LEES OOK: Secunda-dogter wat uitreik na Marno Muller, het self nou hulp nodig
Dié bandjies kos R120 elk. Haar ma het gesê die gesin bestee soveel tyd as wat hulle kan met Luané en probeer om deur haar wenslysie te werk.
Luané sal moontlik nie weer skool toe kan gaan nie. Rika het gesê sy sukkel om te loop en kan nie meer haar linkerarm gebruik nie.
Haar ouers wil graag vir haar ’n rolstoel kry omdat sy so sukkel om te loop. Heelbo aan Luané se wenslysie is om see toe te gaan.
Luané en haar gesin was nog nooit by die see nie. Rika was self laas daar toe sy ’n kind was.
0
Om Gold Reef City toe te gaan, is nog een van die dinge op Luané se wenslysie en dan ook om ’n prinses-partytjie te hê.
Sy wil ook graag ’n Duitse Herdershond hê en ’n ‘reborn’-pop.
As jy die gesin wil ondersteun, of ’n bandjie wil koop, skakel Serfontein by 071 642 5843 of Nadia Minnie by 078 249 1971.



