PEP winkels op Delmas weer oop na meer as ’n maand
Teen elkeen van die vyf winkels se deure was daar notas vanaf PEP geplak, waarin daar om verskoning vir die ongerief gevra word.
Delmas en Botleng word gekenmerk aan hul vyf PEP-winkels, maar sedert die begin van Mei was dié winkels agter slot en grendel.
Die sluit van dié vyf winkels lê glo aan die hande van ’n groep gewelddadige opstokers, bekend en berug in Delmas-kringe vir hul intimidasie en gewelddadige optrede.
By die Willowbrooke Square Winkelsentrum in Samuelweg is daar ‘n PEP Clothing, asook ’n PEP Home.
Daar is ook ’n PEP Cell in die Willow Corner Winkelsentrum in Sarel Cillierstraat, PEP Clothing in Sarel Cillierstraat sowel as die PEP Clothing geleë in die Botleng Winkelsentrum, maar elkeen was agter slot en grendel.

Teen elkeen van die vyf winkels se deure was daar notas vanaf PEP geplak, waarin daar om verskoning vir die ongerief gevra word.
Volgens PEPKOR moes die winkels sluit om die veiligheid van hul werknemers en die publiek te verseker.
Dit het gevolg nadat ’n groep opstokers sedert 4 Mei dit vir beide die werknemers en publiek onmoontlik gemaak het om die winkels binne te gaan.
Nie die privaat sekuriteitsfirma in diens van PEPKOR of die polisie se Eenheid vir Openbare Orde (POP) van Kwamhlanga of vergaderings met die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKM) kon enigsins daarin slaag om orde in die omgewing van die PEP winkels te handhaaf nie.

Cliffe Dekker Meyer prokureurs verteenwoordig PEPKOR Trading in die saak teen die opstokers.
Volgens ’n skrywe van die prokureursfirma, sou die opstokers eis dat PEP ’n gedeelte van hul diensverskafferskontrakte, met inbegrip van sekuriteitsdienste, aan die groep sou oordra.
Verdere eise van die groep opstokers is die verwydering van die areabestuurder, sowel as die winkelbestuurders uit die diens van PEPKOR asook die heraanstelling van sekere werknemers wat uit PEP se diens ontslaan is.
Volgens die prokureurs is die opstokers gewelddadig en kom hulle met onrealistiese eise vorendag. Pogings om te onderhandel was glo ook nie suksesvol nie en die groep se gewelddadige dreigemente het voortgeduur.

Op grond van die veiligheid van PEP se werkers, kliënte, diensverskaffers, infrastruktuur en goedere moes al vyf die PEP winkel hul deure op 7 Mei sluit.
Dit het die prokureursfirma genoop om namens hul kliënt ’n ultimatum uit te reik aan dié aan die stuur van die gewelddadige protesaksie, waarvan die name aan Streeknuus bekend is.
Cliffe Dekker Meyer prokureurs het in hul skrywe aan dié persone gevra vir ’n skriftelike onderneming dat gewelddadige, intimiderende en onwettige optrede gestaak sou word.
Die sluitingsdatum vir dié versoek was op 30 Mei om 17:00. Daarna sou ’n hofbevel met koste, teen die opstokers volg.

Daar kon skynbaar nie ’n ooreenkoms bereik word nie en met PEP se deure steeds gesluit, was die hofbevel op 1 Junie op die verskeie partye beteken – op 13 van die opstokers, die minister van polisie, die bevelvoerder van die Delmas polisie, die bevelvoerder van die Kwamhlanga polisie, die VKM, die VKM munisipale bestuurder sowel as die VKM burgemeester.
Die inhoud van die lywige dokument is nie aan Streeknuus bekend nie, maar daar word vermoed dat dit vrugte afgewerp het, want op 9 Junie was die deure van die PEP winkels op die dorp weer oop vir besigheid.
Streeknuus het twee van die winkels besoek. Die personeel was hul vriendelike self, maar een van die werknemers, wie verkies om anoniem te bly, het aangedui dat alles nog nie wel is nie en dat die werknemers steeds in vrees werk en onseker is oor die toekoms.
Kliënte was egter gerus, want hulle kon hul PAXI-pakkies en bêrekoop goedere afhaal.



