Die R555-pad by Delmas laat veel te wense oor
“Die aanbring van padtekens moet geprioritiseer word. Daar is ook duidelik stoptekens en spoedhobbels aan beide kant nodig.”
Die R555-pad vanaf Delmas na Eloff en Sundra het die Demokratiese Alliansie (DA) sowel as gebruikers rooi onder die kraag.
Volgens die DA se koukusleier in die Victor Khanye Munisipaliteit, Diane Bath, word spoedgrense en padreëls op dié pad verontagsaam en kan dit grootliks aan die feit dat die pad geen sigbare spoed- of ander verkeerstekens het nie, toegeskryf word.
“Die provinsiale regering gee geen aandag aan dié pad nie,” het Bath in ’n mediaverklaring op 8 Mei gesê.

“Sommige verkeerstekens soos stoptekens, spoedgrense-bordjies, voetoorgange en ander belangrike gevaar- en waarskuwingstekens is baie dof en in sommige gevalle heeltemal onsigbaar.”
Soos verskeie kere vantevore in Streeknuus berig, is die pad ook berug vir ernstige ongelukke waarin verskeie mense al dood of ernstig beseer is. Daar is ook tans verskeie gevaarlike slaggate op die R555.
“Ek het so onlangs as verlede week daar twee van my bande afgeskryf,” het ’n ontstoke inwoner van Eloff Streeknuus meegedeel.

“Hoewel ek die pad daagliks werk toe ry, was daar op die spesifieke oggend ’n ander voertuig agter my en ’n vragmotor het van voor af gekom.
“Ek kon dus nie uitswenk nie en ook nie stop nie. Daar is ook nie skouers aan die pad nie, so ek moes maar deur die vieslike slaggat ry.”
Sedert die herstelwerk aan die R50-pad in 2020 begin het, was dit met tye heeltemal onbegaanbaar. Die verkeer op die R555, veral deur vragmotors, het dus opmerklik toegeneem.

Bath het dit beaam deur te sê dat swaar voertuie skade aan die pad veroorsaak en dat daar by verskeie geleenthede opgemerk is dat die bestuurders padreëls verontagsaam.
“Die aanbring van padtekens moet geprioritiseer word. Daar is ook duidelik stoptekens en spoedhobbels aan beide kant nodig.”
Bath het voorts genoem dat seisoenale digte mis ’n verdere rede tot kommer is, siende die pad ook deur fietsryers en voetgangers gebruik word.
LEES OOK: Nog ’n vlaag gewelddadige onluste en plundery ruk Delmas
Streeknuus het opgemerk dat rook in die omgewing van die Mimosa informele nedersetting die sig uitermatig tydens die winter belemmer.
“Volgens Bath moet provinsiale paaie gereeld en deurgaans onderhou word. Dit is in uiterste belang dat verkeer- en padtekens dringend aangebring moet word sodat verkeer behoorlik kan vloei en ongelukke beperk word.”
Die Departement van Vervoer en Openbare Werke is verantwoordelik vir die afdwinging van verkeersreëls op die R555.

Bath het aangedui dat die DA se woordvoerder vir Publieke Werke en Vervoer, Trudie Grove-Morgan, beplan om ’n skrywe aan die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) van dié departement, Speedy Mashilo te rig waarin die DA om ingryping sal vra.
Bath het voorts gesê dat die departement se 2023 / 2024 finansiële begroting wys dat daar geen werk aan die R555 beplan word nie.
“Dit dus is uiters teleurstellend dat die departement hul rug op die R555 gedraai het.”
Streeknuus het ’n skrywe aan die departement gerig, maar teen druktyd kon nog geen terugvoer ontvang word nie.



