Local newsStreeknuus

Kleuter van Cullinan is baie siek, maar ma bly bid en glo

Die enkelma se kostes beloop baie hoog en skenkings sal steeds waardeer word.

Marlo Goosen wat met kanker gediagnoseer is, verkeer steeds in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria.

Die vierjarige van Cullinan was op 13 Junie steeds in die intensiewe sorgeenheid waar hy chemoterapie en behandeling vir die ergste pyn kry.

“Die rede vir die opname in intensief was ’n baie hoë infeksietelling. Die chemo het hom naar gemaak en ons vermoed dat van die braaksel in sy tragea beland het wat die hoë infeksietelling meegebring het,” het sy ma,

Marinet Janse van Rensburg, verduidelik. Sy het bygevoeg dat hoewel hy reeds beter lyk, Marlo nog geensins beter is nie.


Marinet Janse van Rensburg en haar vierjarige seuntjie Marlo is beide met kanker gediagnoseer.

“Marlo se onkoloog is tans met verlof en sodra sy terugkeer sal ons hoor wat die pad vorentoe is ten opsigte van sy verdere behandeling.”

Beenmurgtoetse is intussen gedoen en die moontlikheid van ’n opvolg CT-skandering bestaan ook nog.

“Slegs dan sal daar bevestig kan word of die kanker versprei het,” sê Marinet.

“Die besoektye is net baie moeilik want ons mag vir Marlo slegs tussen 14:30 en 16:00 sien. Dit maak dit baie moeilik, want ek is enkelma van twee ouer kinders en moet my lewe rondom dit aanpas.”

Streeknuus (9 Junie) het omtrent die hartseer omstandighede rondom die vierjarige Marlo en die lang pad vanaf vermoedelike oorinfeksie, tandpyn of pampoentjies tot met die diagnose van ’n aggressiewe vorm van kanker (embroyonal rhabdomyosarcoma), berig.


LEES OOK: Ma en vierjarige seun van Cullinan is beide met kanker gediagnoseer


Marinet wat self met borskanker gediagnoseer is, probeer om ook aan haar kanker aandag te skenk.

“Ek hoop om geholpe te raak, want ek het verneem dat privaatbehandeling sowat R800 000 kan beloop en sonder ’n mediese fonds is dit net nie moontlik nie.”

Marinet bedank weer elkeen vir hul gebede, bystand, hulp en omgee.

“Ons vra dat julle asb sal aanhou bid vir Marlo dat sy toestand sal verbeter en dat die chemo asseblief tog sal werk,” lui ’n plasing op die Facebook blad, ‘Pray for Marlo Goosen and his mommy. Both have cancer’.

Die enkelma se kostes beloop egter baie hoog en skenkings sal steeds waardeer word.

Skenkings kan in die volgende rekening betaal word:
– Capitec spaarrekening.

– Rekeningnaam: Miss M JV Rensburg.

– Rekening nommer: 133 103 9167.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button