Stannies speel kookwaterrugby
“Hierdie seuns het vasgebyt, uitgehou en aangehou tot letterlik die laaste sekondes, dit was reeds in beseringstyd dat Motheo ’n baie moeilike skop vanaf die kantlyn oorgeskop en Stannies ’n 42 - 40 oorwinning teen Laerskool Pionier behaal het,” het Stannies gesê.
Laerskool Standerton gaan vir nog baie lank 10 Junie onthou. Die o9-, o10-, o11- en eerste rugbyspan is as Mpumalanga-kampioene van mediumskole gekroon.
Stannies het dit toegeskryf aan seëninge deur die Hemelse Vader met goeie, gesonde seuns wat hul talente ten volle benut, ouers wat bereid is om hul tyd, aandag en ondersteuning te gee, puik afrigters wat meer as hul deel doen, en hulself voortdurend opskerp, asook ’n hoof, Rudi Hamman, wat letterlik agter elke span en afrigter staan en keer op keer die regte raad op die regte tyd gee.

Volgens die skool was dié kombinasie vanjaar die wenresep want vir die eerste keer in die 95 jaar van Laerskool Standerton se geskiedenis behaal al vier rugbyspanne seges in die eindstryd van die Mpumalanga Kampioenskap.
Volgens die skool het die puik prestasie nie in hul skoot geval nie. Dit het met deursettingsvermoë en uithouvermoë gepaardgegaan.
Die uitslae was soos volg:
Die o9 A-span met afrigter, Joe Gouws, klop Laerskool Secunda 10-0, die o10 A-span met afrigters Henré Naudé en Hermann Fourie, klop Laerskool Trichardt 31 – 12 en die o11 A-span met afrigters, PJ Mostert en Henré Naudé klop Laerskool Pionier 19 – 6.

Die eerste span was laaste aan die beurt met afrigters, Ludwich Kock, Joe Gouws en Hermann Fourie.
“Hierdie seuns het vasgebyt, uitgehou en aangehou tot letterlik die laaste sekondes.
“Dit was reeds in beseringstyd dat Motheo ’n baie moeilike skop vanaf die kantlyn oorgeskop en Stannies ’n 42 – 40 oorwinning teen Laerskool Pionier behaal het,” het Stannies gesê.
Stannies het Hoërskool Middelburg bedank, wat as gasheer opgetree en die kampioenskap aangebied het.
LEES OOK: Gr. 4-leerders van Laerskool Standerton praat ’n plek los by eindstryd
“Ons waardeer julle moeite en reëlings.”
Hulle het ook elke afrigter en die hoof vir hul toegewydheid bedank.
“’n Wenspan op sy eie met ’n wenkaptein,” het hul mee afgesluit.
“Ons hou altyd vas aan Jeremia 17:7 ‘…Dit gaan goed met die mens wat vertrou op die Here’.”




