Vriendinne kuier na 53 jaar steeds saam
Die getroude lewe met mans, kinders en kleinkinders het met die pad langs gekom, hul lewens het besig geword, maar steeds het hulle kontak behou.
Drie vriendinne wat in die vroeë sewentigerjare as jong meisies saam begin werk het, kuier na 53 jaar van vriendskap, steeds saam.
Paula Joubert van Sundra, Lettie Gratham van Boksburg en Sandra Henning van Kempton Park maak dit ’n maandelikse instelling om saam by We Meat Again op Delmas te kuier.
“Ek het op 24 Februarie 1970 as 17-jarige by die destydse Golgate Palmolive op Boksburg begin werk,” het Paula laat hoor.
Die ander twee vroue het kort daarna gevolg en die drie het sedertdien hegte vriendinne gebly en is steeds onafskeidbaar. Die getroude lewe met mans, kinders en kleinkinders het met die pad langs gekom, hul lewens het besig geword, maar steeds het hulle kontak behou.
Op ’n vraag aan die drie oor hoe hulle kontak behou het in tye waarin daar geen selfone, Facebook, WhatsApp en ander moderne tegnologie was nie, was die antwoord eenvormig: “Ons het mekaar gebel, die landlyn was die ding.”
Al drie vriendinne het ’n gesamentlike stokperdjie, naamlik naaldwerk, wat hulle steeds beoefen.
Paula is glo die wenner in dié kategorie, want volgens die ander twee gee sy iets net een kyk en dan kan sy dit sommer so uit haar kop uit maak.
“Ek aan die ander kant word ‘Lettie-pattern’ genoem, want ek moet ’n patroon hê om iets te kan maak.”
Paula, wat van Portugese afkoms is, se inleg-lekkernye en unieke konfyte word deur haar twee vriendinne geprys.
Sandra brei weer graag en beide Lettie en Sandra lees ook graag. Gedurende die Covid-pandemie het Sandra baie siek geword en het haar lewe aan ’n draadjie gehang.
Sy het Covid-19 en dubbele longontsteking opgedoen gevolg deur ’n string ander ernstige komplikasies.
Haar galblaas het ook gebars en sy het sepsis opgedoen wat haar vir ’n totaal van 74 dae in die intensiewe eenheid laat beland het.
Paula en Lettie vertel met oorgawe, maar ook met opsigtelike dankbaarheid, van hoe Sandra na 74 dae in die hospitaal na ’n herstel fasiliteit moes gaan waar sy van voor af moes leer loop en praat.
“Ek kon nie eers vir myself ’n koppie koffie maak nie, dit was baie erg,” het Sandra gesê.
“Ek het ’n lang tyd van my lewe verloor, maar natuurlik onthou ek niks daarvan nie. Dit was eintlik ’n wonderwerk, want mense van Amerika, Portugal, Wallis, Engeland, Australië, Nieu-Seeland, eintlik van regoor die wêreld gehad wat vir my gebid het. Ek glo almal se gebede het my deur dit gedra.”
Sandra en Paula doen boonop ook lyndans.
“Ons geniet dit baie en die lyndans het ook baie gehelp met Sandra se herstelproses,” het Paula gesê.
“Dit is uitstekende oefening vir liggaam en gees en was en is steeds uitstekende terapie vir koördinasie tussen hand, voet en brein.”
Die eetgoed het op die tafel by We Meat Again gearriveer en nadat daar hande gevat en gebid is, het die drie vriendinne gesellig verder verkeer.
“Until met meet again at we Meat Again op Delmas,” het hulle gegroet.



