Local news

Petra Fischer van Standerton pas aan by veranderde omstandighede

Die oorgrote meerderheid van haar studente is tussen ses en 12 jaar en veral die Sjinese se benadering is opvallend.

Petra Fischer bly aan die beweeg, of dit nou beroepsgewys is of met sport. Die dogter van die afgetrede landdros, Anton Fischer, het na matriek in 2002 by SHS, koers na Baltimore in die VSA gekies vir ’n somerkamp en vyf maande later teruggekeer Standerton toe.

Amerika sou sy later in haar professionele loopbaan weer sien.

Petra het as algemene arbeider op Frikkie Lyons se sampioenplaas gewerk, by ’n bakkery in Handelstraat ingeval alvorens universiteit gewink het.

Moenie vergeet dat sy reeds op skool koerante afgelewer het. Haar ouers het haar deurgaans aangemoedig om standvastigheid te omarm en iets agter haar naam te skryf.

’n B.Com Sport en Rekreasiebestuur is suksesvol aan die Universiteit van Pretoria voltooi en die Groenkloofkampus se studentelewe is heelhartig aan meegedoen.


Petra Fischer is betrokke by ’n breë spektrum aanlynskole en van die skole gee materiaal vir die lesse.

Petra het ook in 2008 vir ’n honneursgraad ingeskryf. Sy het ’n pos daarna by ’n maatskappy in Pretoria aanvaar wat op avontuurrelevante leer gefokus en die konsep verwant aan spanbou, ontgin het.

Die maatskappy het sake in Louisiana, Amerika by ’n Sasol-aanleg gedoen en ook in Katar in die Midde-Ooste.
Verskeie reise in Suid-Afrika en die vasteland is reeds aangepak.

“Toe ek nog klein was, het my oom, Bernard ons saamgeneem Namibië, Botswana, Zambië« en Malawi toe,” het Petra gesê.

“Dit het die wêreld vir ons oopgemaak.”

Petra het die Amerikaanse kultuur as sterk beleef, met hul geldeenheid, werksekuriteit en weermag en het die huidige Suid-Afrikaanse konteks soos volg beskryf:

“Dit is baie anders as die VSA en ’n mens moet kan aanpas.

“Daar is ’n jonger generasie in Suid Afrika wat aandring en eis dat gehoor aan hul somtyds irrasionele versoeke gegee word, maar wat nie altyd verstaan dat sukses en vooruitgang in die lewe die resultaat van harde werk en opoffering is nie.

”n Kopskuif sal gemaak moet word om die vraag-en-aanbodsituasie met betrekking tot werksgeleenthede te verstaan, asook die realiteit dat ’n kwalifikasie vandag nie noodwendig vir ’n persoon ’n werksgeleentheid verseker nie.”

Sy het by tannie Margaret Tonkin se skool vir die plaaswerkers se kinders van 2018 tot 2020 gewerk en deur Unisa ’n nagraadse sertifikaat in onderwys voltooi.

“Tannie Margaret het my vrye teuels in die bestuur van die sentrum gegee, wat ek terdeë geniet en waardeer het.

“Vakansieprogramme is vir die leerders gereël.”


Petra Fischer gee volstoom aanlynklas.

Petra het uiteindelik by die ouer kinders vaardighede ingeskerp. ’n Vereiste vir die nagraadse sertifikaat in onderwys was praktiese ondervinding, wat by Standerton Primary School en Gert Sibande Kollege gedoen is.

Sy het vier maande by die laerskool afgelos toe ’n onderwyser met kraamverlof was. Aanlynklasse het nie sommer oornag gebeur nie.

“Dit is absoluut ’n proses om in te kom en jy móét ’n idee van die tegniese vereistes hê. Ook is kennis van die sagte- en hardeware van ’n rekenaar noodsaaklik.”

Dit kan ook nie sonder ’n TEFL- of TESOL-sertifikaat geskied nie.

Petra het in September 2021 begin met aanlynklasse en die kursus genaamd Teaching English as a Foreign Language (TEFL) baasgeraak.


LEES OOK: Vriendinne kuier na 53 jaar steeds saam


Aanvanklik het ’n aanlynskool kliënte gewerf nadat haar onderhoud die groen lig gegee is. Die oorgrote meerderheid van haar studente is tussen ses en 12 jaar en veral die Sjinese se benadering is opvallend.

“Die ouers is baie streng en wil hê hul kinders moet Engels leer met die oog op studies in ’n ander land.”

Sy het ’n klip in die bos gegooi dat aanlynklasse vir dié ouers ’n statussimbool geword het. Petra is betrokke by ’n breë spektrum aanlynskole en van die skole gee materiaal vir die lesse.

Sy konsentreer op die uitbreiding van woordeskat en sinskonstruksie met die studente en sal nie eens probeer om vir ’n kind van ses die verskil tussen die Engelse ‘f’ en ‘ph’, wat albei as ’f’ uitgespreek word, vroeg te leer nie.

Gesprekvoering in Engels word die wagwoord en om ’n volwassenene van meet af aan Engels te leer, is ’n groot uitdaging.


LEES OOK: VLU-vroue hou streekkonferensie op Standerton


Haar studente is aan die uithoeke van die aarde, van Sjina, Israel, Italië, Frankryk tot Saoedi-Arabië. Om in pas te bly met tydsones, word Oktober en Maart, wanneer ure verander, in ag geneem.

Petra het vir ’n kort tydperk gewerk by ’n aanlynmaatskappy en leermateriaal geskryf, maar haar behoefte aan sosiale omgang en menslike interaksie het egter na vore getree.

“Ek het nie in ag geneem dat dit ’n voltydse 8 tot 5-werk sonder enige menseinteraksie is nie, maar redelik gou agtergekom dat voltydse skryf nie vir my beskore is nie.”

Sy gee hokkielesse vir jong dogters op Woensdae by die Piet van den Berg-ovaal en het ’n stapgroep vir vroue begin.

Golden Gate, Barberton, Majuba en Wakkerstroom se staproetes is al aangedurf deur die vroue, asook ’n paar brawe manne.

Petra het op skool aan langafstandatletiek en hokkie deelgeneem, op Tuks tennis, hokkie, sokker en atletiek gedoen en klim soms op die bergfiets. Sy is realisties oor wat van ’n onderwyser verwag word.

“Ek haal my hoed af vir onderwysers waar dissipline ’n moeilike faset is,” was haar stuiwer in die armbeurs.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button