Local news

Familie mis Michelle de Buys van Secunda se glimlag

Familie rig kruis op na jong vrou se dood.

’n Rooi hartjie is die laaste boodskap wat Yolandie de Buys vir haar dogter, Michelle de Buys (23), gestuur het net na middernag op 26 Mei.

“Sy het dit nooit oopgemaak nie,” het Yolandie gesê.

Michelle is in die vroeë oggendure doodgery op die R580-pad tussen Secunda en Evander.

Volgens die Evander polisie se skakelbeampte, Sersant Zuki Mxhotyelwa, was Michelle en haar kêrel, Eljay Lamprecht, op pad na Michelle se ma op Evander.

Die paartjie het na bewering in die motor baklei terwyl hulle gery het.


Michelle de Buys en haar hondjie, Toffie.

Hy het haar toe glo langs die pad afgelaai en volgens Mxhotyelwa, het ’n aankomende voertuig Michelle doodgery en weggejaag terwyl Lamprecht nog daar was.

Lamprecht kon glo nie sien watter voertuig dit was nie omdat hy te geskok was. Yolandie en Michelle se twee sussies sal haar as ’n borrelende mens onthou wat altyd gelukkig was.

“Dit maak nie saak wat die omstandighede was nie, sy was altyd gelukkig,” het Yolandie gesê.

Dié ma en dogter het ’n noue band gehad en Michelle het altyd met haar probleme na Yolandie toe gekom.

“Sy kon altyd aanvoel as daar iets fout was met my en ek kon aanvoel as daar iets fout was met haar.”


LEES OOK: Mediclinic Highveld staff boost awareness with campaign


Michelle se roudiens het op 6 Junie by die Bikers-kerk op Secunda plaasgevind. Haar oom en haar ouma het die inisatief geneem om ’n kruis te plant by die ongelukstoneel.

Haar steekbaard-hondjie, Toffie, woon nou by haar suster Leigh-Ann de Buys.

“Sy was baie lief vir Toffie en hy mis haar nogsteeds. As ek werk toe gaan, sit hy by die hek en tjank,” het Leigh-Ann vertel.

Die polisie ondersoek nog die voorval en enige iemand wat inligting oor die oggend se gebeure het, kan sersant Mxhotyelwa skakel by 082 453 8476 of die ondersoekbeampte, kaptein Patrick Malepe by 082 065 1299.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button