Local newsStreeknuus

Bronkhorstspruit loop deur onder betogers

Die polisie het agt mans in hegtenis geneem en later op waarskuwing vrygelaat. Burgerlike organisasies voel egter nie genoeg was gedoen om inwoners en eiendom, soos motors, te beveilig nie.

Vermeende betogers wat verlede week op Bronkhorstspruit in hegtenis geneem is, is tans weer op vrye voet.

Dié agt mans het na bewering ’n Ford Ranger-bakkie van Eskom op 22 Junie in Kerkstraat omgegooi.

Hulle was veronderstel om op 26 Junie in die landdroshof op Bronkhorstspruit te verskyn, maar is egter op waarskuwing vrygelaat. Hulle moet nou op 11 Julie voor die landdros verskyn.

Dié voorval in die middedorp is glo deel van die betogings wat sedert 15 Junie in die dorp geheers het en teen 20 Junie tot geweld oorgegaan het.


Motor se agterruit is stukkend gegooi.

’n Vragmotor en motor van Eskom is op 20 Junie by die R25-oprit vanaf die N4-hoofweg aan die brand gesteek.

Groepies betogers het ook glo ander ingange na die dorp, asook plek-plek in die binnedorp geteister.

Die betogers, gewapen met knopkieries, het veral soggens tussen 05:00 en 07:00 die paaie met brandende bande en klippe versper en het selfs motors met klippe bestook.

Stapels papiere is ook in die pad afgelaai en aan die brand gesteek.


Eskom vragmotor aan die brand by die R25 afrit.

Inwoners het veral gesukkel om soggens by die werk uit te kom en ouers wat kinders skooltoe moes neem, het vir hul veiligheid gevrees.

Ansie de Jager kan hiervan getuig.

“Ek moes die Dinsdagoggend my dogter skool toe neem om eksamen te skryf. Ons het vanaf Tinstraat gery, maar toe ons by die verkeerslig by Masada kom, was die pad vol klippe gepak. Die betogers het ons so geintimideer dat my kind nou te bang is om skool toe te gaan,” het De Jager vertel.

“Dit voel of ons reg in ons eie hande kan neem, daar word niks gedoen aan die betogers nie.”


Motor is met klippe gegooi.

’n Belangegroep op die dorp wat verkeie inwoners en organisasies soos AfriForum en die Transvaalse Landbou-unie (TLU), asook sakelui en veiligheidsmaatskappye insluit, is dit ook eens dat die polisie nie genoeg gedoen het om inwoners en eiendomme te beskerm nie.

Volgens ’n brief van dié groep is die betogings al vir maande ’n gereelde verskynsel en het verlede week net geweldadiger geraak.

’n Vergadering is op 21 Junie in die raadsaal by AfriForum gehou waarheen die groep ook die stasiebevelvoerder, kolonel Maqhawe Simon Dhladhla, genooi het.

Volgens Faan Roets van TLU, het Dhladhla egter homself en sy bestuurspan verskoon want hulle moes provinsiale verteenwoordigers vergesel het vir ’n uitvoerbaardheidstudie vir ’n satelliet by die polisiestasies op Zithobeni en Sokulumi.


LEES OOK: LCUC unable to collect refuse after accident in Standerton


Roets het verduidelik dat die belangegroep intussen ’n petisie opgestel het en dat hulle druk op die polisie wil uitoefen.

“Ons hou die polisie verantwoordelik vir dit wat verkeerd gegaan het en vir die groot skade wat aangerig is,” het hy gesê.

Dhladhla het verlede Donderdag aan Streeknuus gesê die probleem het by die polisie se hoofkantoor in Pretoria gelê omdat die eenheid vir openbare orde (Pops) nie betyds ontplooi was soos wat hy aangevra het nie.

Volgens Dhladhla het die betogers beweer dat hulle werkloos is en werk by Kusile Kragstasie wil hê.

“Die betogers wou ’n vergadering met Kusile se bestuur hê, want hulle wil weet hoekom kry hul mense nie werk nie, terwyl mense van buite ingetrek word. Kusile het egter kontrakteurs deur wie aanstellings gemaak word en die keuses berus nie by Kusile self nie.

“Ek het met die mense gepraat waar ek ook ’n bestuurder by Kusile geskakel het en hy dit so aan die mense verduidelik het,” het Dhladhla vertel.

“Ek het aan die groep se leiers verduidelik dat die regte optrede sou wees om die polisie te nader vir toestemming vir ’n optog na Kusile. Hoewel die leiers saamgestem het, het hulle nie kom toestemming vra nie, en het hulle die volgende dag weer betoog.”

Dhladhla het afgesluit deur te sê dat hy meegevoel met die inwoners het omdat hy immers self ook op Bronkhorstspruit woon.

Sedert die inhegtenisname van die agt vermeende betogers, is die situasie op die dorp rustig.


LEES OOK: Child injured in accident on P185 between Skyhill and Secunda




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button