Legende in stoei-kringe laat groot leemte in Secunda en omgewing
Geliefdes neem afskeid van Lollie van den Berg.
Die stoei-legende, Lollie van den Berg (73) is op 24 Junie aan ’n hartaanval dood. Sy het begin sleg voel en is in die hospitaal opgeneem voordat sy dood is.
Sy het ook teen kanker geveg en was die laaste paar maande nie meer so aktief by die stoeikringe betrokke nie.
Ouers sal haar onthou as die tannie wat vir jare eers by die Unicor Stoeiklub en toe later by die Sasol Stoeiklub betrokke was as deel van die klubbestuur.
Sy het in 1977 reeds by die Unicor Stoeiklub betrokke begin raak toe haar seun, Johan van den Berg, wat nou die Sasol Stoeiklub op Secunda se afrigter is, begin stoei het.
Lollie is in 1979 as sekretaris van die Unicor Stoeiklub gekies en het daar gedien tot 1995. Sy was vir 23 jaar die sekretaris en tesourier van Sasol Stoeiklub.
Lollie het ook vanaf 1993 op die Suid-Afrikaanse Stoei Federasie se bestuur gedien en later jare ook die Suid-Oos Transvaal en Mpumalanga Stoei-verenigings.
Haar liefde vir stoei het haar ook provinsiale kleure as spanbestuurder en administratiewe beampte besorg en sy was verskeie kere die spanbestuurder by die Suid-Afrikaanse Stoeikampioenskap en inter provinsiale kompetisies vir Mpumalanga.
Sy was ook deel van die Suid-Afrikaanse Stoei Federasie se admin-personeel in 1998 by die Wêreld Kadet Stoeikampioenskap, in 1999 by die Afrika Spele, in 2005 by die Afrika Senior Stoeikampioenskap en in 2006, 2013 en 2017 by die Statebond Stoeikampioenskap.
Haar gesin het haar as ’n wonderlike mense beskryf wat altyd bereid was om ander te help en wie diep spore gelaat het in die gemeenskap. Boodskappe op sosiale media het ook ingestroom sedert haar dood en mense het gesê:
“Ons sal jou altyd onthou met jou vriendelike glimlag en hulp wat jy aan almal verleen. Jou teenwoordigheid gaan gemis word.” – Ronel en Japie Ludick.
“Met passie en liefde vir ’n sport het sy getrou altyd haar verpligtinge nagekom. Met ’n glimlag wat altyd die stoeiers opgebou en ondersteun het. Haar teewoordigheid het soos ’n sonstraal altyd helderheid gebring en het sy met soveel liefde haar kennis gedeel, altyd gestop waarmee sy besig was om ’n helpende hand te gee.
“Sy was ’n ma vir elke stoeier, ’n mentor, ’n leier, maar bo alles geliefd deur almal. Haar voetstappe is nou stil, haar kennis is gedeel en soos die eindfluitjie geblaas het vir elke wedstryd, het ook haar fluitjie geblaas. Ons is saam met julle hartseer.” – Shaney van Niekerk.
“Sy was ’n amazing mens en gaan beslis gemis word. Sy laat beslis ’n groot leemte.” – Luhane von Benecke.
“Wat ’n verlies in die stoeigemeenskap.” – Kobus Maritz.
“Meer as 30 jaar terug toe my broer begin stoei het, was ek ’n klein dogtertjie, tannie Lollie was ’n household name daai tyd, altyd orals betrokke en altyd met ’n glimlag.” – Michelle Liebenberg.
“Tannie Lollie, ons gaan tannie verskriklik mis, tannie was diep in ons harte en ons sal vashou aan al die memories.” – Elma Webb.
“Ek sal vir altyd ons geselsies, drukkies en geheimpies onthou en treasure. My tannie wat in my geglo het en my na die matte toe gevat het…. ‘Kom Maraloe, ek weet jy kan’. Totsiens my tannie.” – Maraloe Swarts.
“My woordeskat skiet vér tekort om reg te laat geskied aan hierdie baie spesiale dame, vrou, ouma en vriendin. Jy het my altyd met die mooiste glimlag begroet, opreg in jou optrede, nooit weg geskram om jou saak te stel indien jy dit nodig geag het nie. Ek gaan jou baie mis tannie Lollie, dankie vir die mens wat jy was,” – Hansie Kruger.
Haar roudiens het op 30 Junie vanuit die Hervormde Kerk op Secunda plaasgevind.



