Delmassers help om verdagte in poging tot moord-saak vas te trek
Delmas se polisiewoordvoerder het gesê die goeie samewerking en verhoudinge tussen plaaslike veiligheidseenhede, die buurtwagte en die polisie dra by tot van die suksesse in Delmas en omgewing.

AfriForum se Delmas Valke Buurtwag het op 25 Augustus gehelp om ‘n 36-jarige man, ‘n verdagte in ’n poging tot moord-saak, vas te trek.
Dit volg ná ’n gemerkte voertuig, wat glo betrokke was by ’n poging tot moord op polisie-offisiere in Vryheid, Natal, op een van die buurtwag se nommerplaat-herkinngskameras opgemerk is.
Die beeldmateriaal is gesirkuleer en ’n lid van Titen Sekuriteit het kort daarna die verdagte voertuig op die R548, in die rigting Devon opgemerk.
Die lid het onmiddellik vir bystand gevra en die Delmas en Devon Polisie sowel as lede van AfriForum se Valke Buurtwag op Delmas het bystand gelewer.
Volgens kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van die Delmas Polisie is die verdagte Toyota Corolla met een insittende in die Devon omgewing van die pad afgetrek.

Die bestuurder van die voertuig het glo aanvanklik ontken dat hy die gesoekte verdagte is en het ook geen identifikasie of bestuurderslisensie by hom gehad nie.
Die bestuurder van die voertuig het wel aangebied om die polisie na sy woning op Devon te neem.
Met die polisie en ander veiligheidseenhede se aankoms by dié huis kon daar egter gou bevestig word dat die bestuurder wel die verdagte is waarna daar sedert April vanjaar gesoek word.
Die polisie het op die Toyota Corolla en’n vuurwapen beslag gelê.
Volgens Brigadier Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sal daar ballistiese toetse op die wapen uitgevoer word om vas te stel of dit in voorheen vir die uitvoer van enige misdade gebruik was.

“Hierdie goeie en positiewe inhegtenisname van ’n verdagte misdadiger is weer eens ’n bewys dat daar met kamerategnologie beslis deurbraak gemaak kan word. Die kring vir misdadigers word met die tegnologie nouer getrek.
“Die goeie samewerking en verhoudinge tussen plaaslike veiligheidseenhede, buurtwagte en SAPD dra by tot van die suksesse in Delmas en omgewing,” het Carel Botha, leier van AfriForum Delmas Valke Buurtwag gesê.
Die provinsiale kommissaris van die polisie in Mpumalanga, Luitenant Generaal Semakaleng Daphney Manamela, het ook die inhegtenisname verwelkom en die betrokke partye geloof vir die samewerking wat tot hierdie sukses gelei het.
Teen druktyd kon Streeknuus met Hartley bevestig dat die man op 28 sowel as 29 Augustus in ’n hof in KwaZulu-Natal (KZN) sou verskyn het en dat hy steeds in aanhouding is, hangende die ondersoek teen hom. Hartley het verder bevestig dat die KZN eenheid vir prioriteitsmisdaad die saak verder ondersoek.






