Klippe en kapings op N12 bly ’n kopseer
“Sou jy die ongelukkige slagoffer van ’n kaping word, moet jou nie verset nie. Gee jou samewerking - dit kan jou lewe red.”

Delmas bly ’n brandpunt wanneer dit by kapings met gepaardgaande ontvoerings kom. Vir etlike maande reeds word daar nou ook voorwerpe, meestal klippe, op die padoppervlak geplaas.
Niks vermoedende motoriste sal dan oor die klippe ry en stop om die skade aan hul voertuie te ondersoek en beroof word.
Volgens Kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van Delmas SAPS, is dié rowers meestal te voet en boonop gewapen.
“Wanneer dit by gevalle van kapings en klippe op die pad kom, blyk dit dat die rowers veral op bankkaarte en gepaardgaande pinkodes konsentreer. Slagoffers word in baie van die gevalle gedwing om geld via bank-toepassings in ander rekeninge oor te plaas.”
Volgens die polisie word kapingslagoffers meestal deur voertuie, toegerus met blou ligte in die paneelbord of die voorste rooster, van die pad afgetrek.
In baie van die gevalle sou die persone glo dan ook die een of ander vorm van polisie-uniform dra, hetsy vol uniform of ’n polisie gemerkte glimbaadjie.
Daar sou dan aan motoriste gevra word om hul bestuurderslisensies te toon waarna meer rowers op die toneel verskyn en die voertuig se deure oopgedwing word.
Hierna word die slagoffers op die agterste sitplek van hul voertuie gedwing. Selfone word afgeneem en pinkodes vir bankkaarte afgedwing.
Hartley kon by navraag verder bevestig dat daar dan meestal met slagoffers, waarvan die hande met kabelbinders vasgebind en die kop bedek is, rond gery word.
Slagoffers word hierna in ’n bos of ’n afgeleë gebied afgelaai.
Brandpunte vir kapings en ontvoerings waar vragmotors en motoriste in ligte voertuie sowel as vragmotors gekaap word, blyk op die N12-hoofweg tussen die R50 Bapsfontein-pad en die vulstasie te wees.
Kapings vind in beide Witbank en Johannesburg-rigtings plaas.
Die pak van klippe kom meestal op die N12 tussen die R50 Bapsfontein/ Pretoria-afritte en die R42 Bronkhorstspruit afritte plaas.
Hartley het weer eens beklemtoon dat motoriste uiters bedag moet wees en liefs nie na donker op die paaie moet ry nie.
“Wanneer jou voertuig vreemde voorwerpe in die pad tref, ry so ver as moontlik aan en as enigsins moontlik, ry tot by die naaste veilige en verligte plek.”
In die geval van die berugte bloulig-voertuie, beveel Hartley aan dat motoriste verkieslik nie moet stop nie.”
“Polisievoertuie in ons gebied word nie met blouligte in die paneelbord toegerus nie. As ’n voertuig dus verdag voorkom,verminder spoed, sit jou noodligte aan en ry tot by die naaste polisiestasie of veilige plek.
“Sou jy die ongelukkige slagoffer van ’n kaping word, moet jou nie verset nie. Gee jou samewerking – dit kan jou lewe red.”
Hartley het verder gemaan dat motoriste hulle daarvan moet weerhou om langs die N12 of enige ander pad te stil te hou.
Die Delmas polisie bedank ook elkeen van die plaaslike rolspelers wat privaat-sekuriteitsmaatskappye, sattelietopsporingsmaatskappye, buurtwagte, en die Delmas Valke Buurtwag se reaksiespan insluit, vir die bystand wat hulle aan die polisie verleen in ’n poging om dié misdaad hok te slaan en die skuldiges aan die pen te laat ry.



