Local newsMunicipal

Erge kopseer oor watertoevoer op Standerton

“Dienslewering, waaronder wateronderbrekings, gaan oor die algemeen teen ’n spoed agteruit,” het Leon Enslin, takvoorsitter, gesê.

Die gemeenskap het die afgelope week gebuk gegaan onder erge waterprobleme.

Die kommunikasiedepartement van die Lekwa Munisipaliteit het op 7 September aangedui dat fase 6-beurtkrag watertoevoer beïnvloed.

Lekwa het vervolgens vyf tenkers na onderskeidelik Wyk 1, Standerton Hospitaal, Wyk 15, klinieke en skole ontplooi.

Die AfriForum-tak op Standerton het op 4 September 1 000l water aan die plaaslike Ampath voorsien nadat ’n wateronderbreking dié laboratorium se dienste tot ’n stilstand gedwing het.

Volgens ’n persverklaring van 7 September, is hierdie onderbreking die gevolg van die implementering van hoër fases beurtkrag.

Dit veroorsaak dat die drukpompe by die reservoirs vir ’n tydperk buite werking is, veral wanneer die waterverbruik drasties toeneem.

Dit neem dan sowat vier ure vir die watertoevoer om te herstel.

“Dienslewering, waaronder wateronderbrekings, gaan oor die algemeen teen ’n spoed agteruit,” het Leon Enslin, AfriForum takvoorsitter, gesê.

“Ons moedig die gemeenskap aan om ’n dag of twee se water op te gaar sodat daar tyd is om planne te beraam indien die probleem weer opduik.”

Inwoners in die middedorp se aanmelding van waterprobleme gaan onverpoosd voort.

Ondernemings het ingespring om water aan die gemeenskap te voorsien waaronder Goldi en Highveld Crushers.

Alle hoop word nou op die voltooiing van die Kieserstraat Reservoir geplaas.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

 
Back to top button