Nicky van der Linde van Standerton se landbouvaardighede bekroon
As vierde-generasie-Van der Linde, het Nicky na die afsterwe van oom David in Desember verlede jaar, nie die mentorskap van sy pa vergeet nie.
’n Sonderlinge eer het Nicky van der Linde van Standerton te beurt geval.
Hy het op 6 September by die Voortekkermonument in Pretoria TLU SA se Jong Boer van 2023-toekenning in ontvangs geneem.
Altesaam 15 boere is deur agt beoordelaars onder oë geneem. Die TLU het die land plat gereis om uiteindelik die wenner aan te wys.
Vir Nicky was dit inspirerend om met die ander boere te gesels.Hulle kon gedagtes uitruil oor wat werk en wat nie.
“Jy moet jou meet teen ander landbouers,” het Nicky onomwonde verklaar.
Die Van der Lindes is huishoudelike name in die boeregemeenskap en op die dorp.
As vierde-geslag Van der Linde, het Nicky na die afsterwe van oom David in Desember verlede jaar, nie die mentorskap van sy pa vergeet nie.
Nicky het sy seuntjie die familienaam, David (8), gegee met oupagrootjie Dawie, oupa Nick, pa David deel van die stamboom.
“My pa het by hom die liefde vir beeste en skape gekweek,” het Nicky vertel.

As jong hoërskoolleerder wat vir die eksamen moes studeer, het Nicky soms deur die kamerruit uitgewyk plaas toe en gaan trekker ry.
Vergeefs dat sy ma, Belinda na hom sou soek. Nicky en Adri het ook ’n dogtertjie, Ariana. Nicky het in middel 2006 van die Universiteit van die Vrystaat teruggekeer huis toe na ’n ernstige rugbesering.
Vir dié loskopstut wat vir die Vrystaatse o19s en universiteit se o19A-span uitgedraf het, was dit nie ongewoon om weer in te skakel by sy ouers en die gemeenskap se doen van dinge nie.
“Boerdery is ’n manier van lewe en dit is ’n voorreg om te kan boer. Ek het van kleinsaf saam met my pa in die bakkie geklim,” het hy gesê.
ALSO READ: Kershaw-moordenaars na drie jaar verhoor op Delmas
Dit het vir wyle David en Nicky sin gemaak om in hul eie silo’s te belê en benewens die siftings- en stoorkostes, was dit vir dié kommersiële boere die aangewese pad om te volg.
Nicky gebruik sifsels om sy kudde Afrikanerbeeste van kos te voorsien. Op dié wyse kan graan bemark word wanneer hulle wil.
Die prys word uiteraard kontroleer voor dit van die hand gesit word en hy hou voet by stuk dat die 14% vog vir die mielies en 13% vog vir die sojabone ononderhandelbaar is. ’n Wakende oog word ook op mied in die silo’s gehou.
Hulle speenkalwers kan dus self gevoer word. Die voltooiing van die silo’s is in die pyplyn, natuurlik ten volle geoutomatiseerd.

Sentiment het ook die deurslag gegee by die benaming van Geelbos Boerdery. Amptelik is dit nou Ventura Stoetbeeste, ‘trading as’ Geelbos Boerdery. Die stoet is inmiddels gederegistreer.
Nicky is baie realisties oor die eise wat aan ’n jong boer gestel word.
“Toe ek begin boer het, het ek vinnig agtergekom dat die finansiële sy ’n deurslaggewende rol speel.
“Ek wens ek kon meer tyd in die landerye deurbring as in die kantoor.”
Dié jong boer het ook die veronderstelling dat die El Niño-verskynsel noodwendig swak oeste gaan oplewer, die nek ingeslaan.

“As die reën goed verspreid is, kan jy met baie minder reën klaarkom.”
Nicky hou sy visier op die veranderende natuurverskynsels, soos enige boer.
“Goeie winde, die bome wat begin bot, dit lyk alles reg.”
Pa David se diepe geloofsvertroue het inslag by sy seun gevind.
“Jy werk so hard as wat jy kan, hou jou kop op die grond en die res kom van die Here af.”



