Janelize Roux is lief vir Standerton en sy mense
Janelize het ook skoolkore afgerig, die sêrgroep by SHS, was by Kansa betrokke en beplan ’n talentkompetisie vir volgende jaar.
Janelize Roux is ’n Standertonner in murg en been met die familiegeskiedenis wat bewys dat sy hier hoort.
Johannes Petrus Meyer het Meyerville aan die dorp geskenk. Hy was haar oumagrootjie se pa aan ouma Pienaar se kant van haar familie.
Voorts is Standerton vernoem na Adriaan Hendricus Stander, haar ouma Anna Sophia Stander se pa se broerskind.
Casper en Janelize het op skool ontmoet, begin uitgaan en sal teen Desember 37 jaar getroud wees.
Janelize se skoolopleiding was by Laerskool Kalie de Haas en Hoërskool Standerton. Sy het opera na skool gaan studeer onder Emma Renzi by die Technicon van Pretoria.

“Ek was destyds ’n dramatiese sopraan, maar deesdae meer ’n mezzo-sopraan,” het Janelize vertel.
Optredes in operas soos The Marriage of Figaro and Cosi Fan Tutti het gevolg. Janelize het ook skoolkore afgerig, die sêrgroep by SHS en was by Cansa betrokke.
Dit is maar die oortjies van die seekoei want deesdae word sy met Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel verbind.
Ons Winkel het op 22 Julie 2020 sy deure op Standerton geopen. Sy het in Mei 2021 die Newcastle winkel geopen en skaars ’n maand later het haar aanstelling as areabestuurder gevolg.
Mpumalanga, KwaZulu-Noord en KwaZulu-Suid het onder haar geval.
LEES OOK: JP Duma’s from Secunda reaches for his dreams to study at UXI
Haar portefeulje het in Januarie verlede verander en het die Oos-Rand, Wes-Rand en KwaZulu-Suid ingesluit.
“Ek is in Februarie vanjaar ook oor die Oos-Kaap aangestel,” het sy gesê.
Sy besoek altesaam 35 winkels gereeld vir onder meer evaluasie, bemarking, of hulle op standaard is en bevordering van samesyn.
“’n Mens moet lief wees vir die Ons Winkel konsep. Jy moet ook passievol wees oor die organisasie,” het Janelize ook gesê.
Sy is van mening dat mensekennis van uiterste belang is in dié bedryf want daar word met verskillende mense, uit verskillende agtergronde, gewerk.

Benewens kennis van winkeluitleg en -versiering speel ander faktore ook ’n rol.
“Die winkeleienaar moet soms emosioneel ondersteun word en hulle het vir my soos vriende en vriendinne geword.”
Planne word beraam om volgende jaar ’n geleentheid op die kultuurfront op Standerton aan te bied. Ons Winkel het 125 winkels in 13 streke met vier areabestuurders in Suid-Afrika.
Casper en Janelize se kinders Janca, Elizma en Xander krap al geruime tyd hul eie potjies. Ouma Janelize spog met twee kleinkinders, Anke en Nina, wat onderskeidelik vyf jaar en ’n jaar en ’n half is.
Janca en Elizma is albei getroud, terwyl Xander ‘n kommersiële hommeltuig vlieënier (drone pilot) is. Haar skoonseuns, Johan en Armand is vir haar seuns, nie skoonseuns nie.



