Local newsMunicipalStreeknuus

Riool is ’n probleem in Bronkhorstspruit

Riool is ’n groot probleem in Verster Park en niks word daaraan gedoen nie.

Rioolvuil spoel al vir meer as 20 jaar uit ’n lekkende rioolpyp in Cultura Park en beland gereeld in die Bronkhorstspruitrivier.

Inwoners in Versterpark, waar die rou riool opdam, meld gereeld die probleem by die owerhede aan uit vrees dat die riool hul ondergrondse water sal besoedel.

Riool hou ook ’n groot bedreiging in vir die boorgate in Besterpark, omdat dié woonbuurt laer geleë is.

Die oorsaak van die probleem lê glo by die hoofafvoerpyp wat tydens die ontwikkeling van Cultura Park gelê is.

Pype is glo veels te dun vir die hoeveelheid riool wat daardeur moet vloei, wat tot gevolg het dat die pyp gereeld verstop en miljoene liters rou riool uitloop.

Die pyplyn loop vanaf Cultura Park, onder Cathiestraat deur, langs Versterpark verby en later onderdeur die N4-snelweg.


LEES OOK: Deon Bekker from Standerton now serves as PR-councillor for the DA


Rioollekkasies in Versterpark en Cultura Park is al in Julie 2021 en ’n aantal kere daarna by die Tshwane Munisipaliteit se departement van water en sanitasie aangemeld.

Jan de Klerk,’n inwoner wat al jare hierteen baklei, het verlede week dié lekplekke aan die nasionale Departement van Water and Sanitasie (DWS) uitgewys toe afgevaardigdes vanaf Mbombela in Mpumalanga kom ondersoek instel het.

Volgens dié afgevaardigdes is die mangat aan die noordekant van Von Willichstraat in Versterpark oorvol en loop dus al vir ’n paar dae oor in die omgewing van die rivier.

Die Stad van Tswhane het al probeer om ’n blokkasie in die pypleiding te verwyder wat glo veroorsaak dat die mangat oorloop. Dit blyk dit was nie geslaagd nie aangesien die riool steeds bly uitlek.

De Klerk het ook die plekke waar die riool in die Bronkhorstspruit stort aan die amptenare uitgewys.

Die DWS het ’n kennisgewing aan Tshwane uitgereik waarin die DWS daarop aandring dat die probleme dringend aandag kry.

Die DWS het Tshwane opdrag gegee om die pypleiding reg te maak en in stand te hou om verdere blokkasies te vermy en ook al die oopgemaakte mangate te verseël om toekomstige stortings te voorkom.


LEES OOK: AfriForum launches alarm system project for substations in Standerton


Die departement het ook met die handawingstak op Bronkhorstspruit in gesprek getree oor die bedryf en instandhouding van die afvalwaternetwerk.

Die DWS sal ook opvolginspeksies uitvoer om seker te maak daar word aan hul opdragte voldoen. De Klerk hoop hierdie besoek van die DWS sal nou daadwerklike oplossings kan bewerkstellig.

“Ek en verskeie mense in Versterpark het al in die verlede die probleem aangemeld, maar dit word beslis geïgnoreer,” het De Klerk gesê.

“Ek hoop die rioolvuil het nog nie een van ons boorgate bereik nie. Glo my, as dit eers by ons boorgate uitkom, sal dit te laat wees. Die skade sal onomkeerbaar wees.”

Water uit riviere, damme en strome word as rouwater beskou en is nie geskik vir verbruik nie, daarom word die publiek gemaan om nie rou onbehandelde water te gebruik nie.

In ooreenstemming met die Nasionale Waterwet moet die waterdiensowerheid, die Stad van Tshwane, kennisgewings aan die geaffekteerde watergebruikers uitreik om hulle in kennis te stel en te waarsku oor die besoedeling in die waterbron.

Die DWS het die Bronkhorstspruit inwoners bewus gemaak van maatreëls wat geneem moet word om menslike gesondheid en die omgewing te beskerm.

Intussen het die Stad van Tshwane aangedui dat hulle tans,weens ’n voortslepende staking, nie op volle kapasiteit werk nie.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button