Local news

Begrafnisondernemer gevonnis: Ma van Rayton glo haar seun kan nou rus

Mariana Erasmus (58), ’n direkteur van die begrafnisonderneming, is verlede maand op aanklagte van vervalsing en uitgifte wat verband hou met die verskaffing van vervalste dokumente, skuldig bevind en sy is op 26 September gevonnis.

’n Ma van Rayton sê sy kan nou vir die eerste keer ná meer as twee jaar oor haar kind huil.

Kolonel Corrie van Zyl, ’n misdaadontleder van die SAPD het op 19 September buite die landdroshof op Cullinan gesê geregtigheid het geseëvier.

Jacques van Zyl (23) is op 12 Februarie 2021 in ’n motorbotsing skaars 300m van sy ouerhuis op Rayton dood.

Volgens Corrie kon sy sedert Jacques se dood nog nie oor hom huil nie, omdat sy sedert sy dood in ’n hofstryd gewikkel was met ’n plaaslike begrafnisondernemer wat Jacques se balsemingsertifikaat vervals het.

Mariana Erasmus (58), ’n direkteur van die begrafnisonderneming, is verlede maand op aanklagte van vervalsing en uitgifte wat verband hou met die verskaffing van vervalste dokumente, skuldig bevind en sy is op 26 September gevonnis.


Jacques van Zyl was ook bekend as “Jakkels.” Hy is op 12 Februarie 2021 in ’n motorongeluk oorlede. Sy ma glo vas haar kind se liggaam is nooit gebalsem nie.

Erasmus is op die eerste aanklag tot ’n boete van R18 000 of twee jaar tronkstraf gevonnis.

Erasmus is ook ’n verdere boete van R18 000 of twee jaar tronkstraf opgelê op die aanklagte van uitgifte wat verband hou met die uitreiking van ’n vervalste balseming-sertifikaat.

Dié vonnisse is samelopend en is vir vyf jaar opgeskort. Corrie se laaste versoek aan Erasmus voordat Jacques begrawe is, was om sy lyk te balsem.

Sy wou nie hê dat haar Jakkals “opgevreet” moet word nie en wou daarom sy lyk gebalsem hê.

Corrie het ná die begrafnis ’n balsemingsertifikaat van Erasmus versoek. Volgens die hofstukke het Erasmus dié sertifikaat eers per e-pos vir Corrie gestuur.


Jacques sê begrafnisboekie.

Corrie het in Maart 2021 die oorspronklike balseming-sertifikaat by die begrafnisondernemers gaan afhaal.

Die A6-grootte sertifikaat was handgeskrewe op blou papier met die kontaknommer van Johannes Gerhardus Broodryk, ’n balsemer.

Toe sy Broodryk opsoek, moes Corrie tot haar skok verneem dat hy nie haar seun gebalsem het nie. Broodryk het die bedrogsaak by die polisie aanhangig gemaak.

Erasmus het in die hof erken dat sy ’n vals dokument geskep het met die doel om Corrie en Broodryk te bedrieg.
Sy het ook erken dat sy Broodryk se handtekening op dié sertifikaat vervals het.

Erasmus het in haar verklaring wat op 19 September saam met haar pleitooreenkoms by die hof ingedien is, verduidelik dat dit die eerste keer in 20 jaar is dat ’n kliënt ’n balseming-sertifikaat by haar versoek het.


Kolonel Corrie van Zyl buite die landdroshof op Cullinan. Sy is verlig die saak teen die begrafnisondernemer wat haar seun begrawe het, is nou verby.

“Ek het ’n blanko sertifikaat van Broodryk gehad, wat hy jare tevore aan my gegee het. Hy het dit vir my gegee sou so ’n sertifikaat versoek word,” het Erasmus gesê.

“Broodryk het gesê dat ek hom net moet inlig as ek die sertifikaat gebruik. Ek het die sertifikaat ingevul, maar Broodryk se handtekening pleks van my eie gebruik,” het Erasmus se verklaring gelui.

Sy het volgehou dat Jacques se lyk wel gebalsem is, hoewel nie deur Broodryk nie. Die dienste is deur ene Meneer Sam van Bronkhorstspruit in die teenwoordigheid van Erasmus se man, Henry Erasmus, gedoen.

Landdros JP Modise het in sy vonnisuitspraak gesê die oneerlikheid in hierdie saak het nie net ’n negatiewe impak op Corrie gehad nie, maar ook op die begrafnisondernemingsbedryf.


LEES OOK: Entities unite for clean-up in front of Standerton Police Station


“Ek was in rou oor my kind wat dood is. Die beskuldigde se optrede het dié trauma vererger en dit wys hoe ernstig die optrede was,” het Corrie gesê.

Corrie het by die hof gesê dat sy ook vir “Meneer Sam” opgespoor het. Volgens haar werk hy vir begrafnisondernemers op Bronkhorstspruit maar is hy nie ’n geregistreerde balsemer nie.

“Hy het ook nie my kind gebalsem nie.”

Volgens Corrie het sy vir langer as twee jaar gebid dat geregtigheid sal geskied en dat die hof sal bevind dat Erasmus bedrog gepleeg het.

“Nou is dit verby. Ek kan nou by my kind se graf gaan sit en huil.”

Broodryk was nie op een van die twee dae by die hof nie.


LEES OOK: Police near Standerton catch two suspects red-handed with suspected narcotics




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button