Man van Bethal sukkel om werk te kry weens kanker
Chris Nawrattel kies om positief te bly en elke dag op te staan.
Chris Nawrattel (41) sukkel om sonder ‘n werk sy gesin te onderhou.
Nawrattel het reeds sy regter oor verloor weens ’n seldame en aggressiewe soort velkanker, basosquamous carcinoma.
Hy het 14 jaar gelede ’n seer plekkie bo sy oor gekry en eers nie veel daarvan gedink nie, maar tog salf by ’n dokter gekry en aangesmeer.
Dit het later, toe die gesin vanaf Pretoria na die Suidkus in KwaZulu-Natal getrek het, egter erger en pynlik begin word. Nawrattel is weer dokter toe en hulle het net vir hom medikasie vir die pyn gegee.
Die gesin het so wat nege jaar gelede na Bethal verhuis.
Nawrattel het tot laas jaar nog by ’n pandjieswinkel op Bethal gewerk, maar sy toestand het vererger en sy oor het sommer net by die werk begin bloei.
Hy is in 2020 Witbank Hospitaal toe waar hy met met velkanker gediagnoseer is.
Dokters het toe ’n operasie gedoen en ’n stuk van die kanker uitgesny, maar na nóg toetse verlede jaar het die dokters bepaal dat die velkanker verder versprei het.
Die kanker is tans net etlike millimetres weg van Nawrattel se brein.

Hy ontvang tans chemo behandeling en het reeds bestraling ook gekry.
Hy het tydens een van die vele operasies wat hy al moes ondergaan, by die dood omgedraai.
“Die dokters het hom vier keer verloor en hulle het gesê as hy ’n vyfde keer sy bewussyn moes verloor, sou hulle hom nie weer kon bykry nie,” het Geraldine Nawrattel, Chris se vrou, gesê.
Tussen al Nawrattel se sessies in die hospitaal, het dit sy bloedsomloop belemmer en hy sukkel tans om te loop.
Hy loop tans met krukke en die gesin wil graag vir hom ’n rolstoel kry, maar kan dit nie bekostig nie.
“As mense my gesig sien, wil hulle nie vir my werk gee nie.”
Geraldine is ook tans werkloos nadat sy haar werk by ’n winkel op Bethal verloor het toe dié winkel toegemaak het.
Die egpaar het twee kinders wat 13 en 14 jaar oud.

Nawrattel en Geraldine sukkel om die pot aan die kook te hou. Hulle leef van ’n Sassa ongeskikdheidspensioen en hulle kry kos by die sopkombuis.
Nawrattel kan net sagte kos eet en die menger wat Geraldine gebruik het om sy kos mee fyn te maak, het onlangs gebreek.
Die gesin het hoenders en hase waaruit hulle ’n klein inkomste genereer asook ’n groentetuin, maar hulle benodig tans kompos vir die tuin.
“Ek bly positief en glo dit is net ’n siekte en ek kan dit oorwin,” het Nawrattel gesê.
“Die oomblik as ek gaan lê en ophou om te probeer gesond word en vorentoe kyk, gaan dit my onderkry.”
’n Inwoner in die omgewing het gesê die egpaar kan twee keer weekliks teen betaling op sy plot werk en help om die diere kos te gee.
Enigiemand in die gemeenskap wat die gesin wil ondersteun, of ’n menger of kompos wil skenk, kan Nawrattel by 079 646 9591 skakel.



