Delmas Herleef doen so voort
Volgens die komitee bly rommelstrooiing een van die grootste kopsere en is die bewusmaking daarvan ’n enorme probleem.
Aan die hande van ’n groep hardwerkende vrywilligers was Delmas onlangs as Kwêla se Dorp van die Jaar vir 2023 aangewys.
Dit was egter nie die einde van die harde werk wat die Delmas Herlewers gedoen het nie. Vanuit die prysgeld was daar reeds asblikke aangekoop wat op strategiese plekke in die dorp geplaas is.
Volgens die komitee bly rommelstrooiing een van die grootste kopsere en is die bewusmaking daarvan ’n enorme probleem.
’n Herwinningskompetisie is dan ook weer onder skole vanuit die omgewing van stapel gestuur om sodoende die kwessie van rommel en die potensiaal van herwinning onder die jeug te laat posvat.
Etlike werkers is ook in diens geneem wat op ’n gereelde basis rommel op sypaadjies, parke en strate optel.

Volgens Delmas Herleef is slaggate ’n verdere probleem en met die reënseisoen op hande word dié probleem net erger.
“Ons het vantevore na die beste van ons vermoë slaggate gevul, maar het nou na die volgende stap oorgegaan,” het die voorsitter van Delmas Herleef doktor Martin van Rensburg gesê.
Volgens van Rensburg was daar ’n masjien aangekoop om slaggate op ’n meer professionele wyse uit te sny voordat dit gevul word.
Slaggate word ook nou eers met vloeibare teer uitgevoer ten einde dit beter te seël voordat dit dan gevul word.
Die toetsloop vir die nuwe slaggat-waentjie en masjienerie het op 30 September plaasgevind.

“Dit neem wel langer, maar so glo ons dat die eindresultaat netjieser en meer blywend sal wees.”
Delmas Herleef spog nou ook met ’n sleepwaentjie waarop toerusting gelaai kan word en vir verskeie take aangewend kan word.
“Daar is nog baie beplanning op die tafel, maar vir nou maak ons gereed vir die groot makietie wat deel van ons prys uitmaak,” het van Rensburg verder laat hoor.
Die Delmas komitee het Streeknuus laat weet dat daar nie op hierdie groot fees, wat op 4 November by Hoërskool Delmas aangebied word, uitgemis moet word nie.
“Kom wees deel in hierdie dag ter viering van Delmas as Dorp van die Jaar,” het van Rensburg afgesluit.






