Local newsMunicipal

Dr Pieter Groenewald hou openbare vergadering op Standerton

Die VF Plus-leier het gesê dat die meeste korrupsie op plaaslike vlak plaasvind en ’n beroep om kiesers gedoen om die eens VF Plus wyk so te hou.

Op die vooraand van die 25 Oktober tussenverkiesing in Wyk 4 het dr Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus), op 21 Oktober ’n openbare vergadering by ’n troulokaal op die Vrede pad gehou.

Die Standerton Advertiser kon deur die bemiddeling van Hillel Coetzer, hul kandidaat vir Meyervile en Eyongeni, hom kortliks uitvra of hy enige hoop vir munisipaliteite het, wat sienderoog in duie val.

“Daar is slegs hoop as die ANC met sy diepgewortelde korrupsie, wat deel is van die amptenary, verwyder word,” het Groenewald onomwonde verklaar.

Die VF Plus leier het voorts gesê dat die meeste korrupsie op plaaslike vlak plaasvind en hy het ’n beroep om kiesers gedoen om die eens VF Plus wyk so te hou. Dit volg nadat Corné Stoltz, voormalige VF Plus raadslid, uit die party bedank het.

Stoltz het as onafhanklike kandidaat in die tussenverkiesing gestaan wat Groenewald beskou het as ’n verdeling van stemme waaruit die regerende party voordeel sou trek.


Slindile Nkosi en Zinzi Sixonxo by die Vryheidsfront Plus se openbare vergadering.

Groenewald het in die vergadering wat kort na 11:00 begin het, bereidwilligheid getoon om met die DA saam te werk.

“Baie sake word op provinsiale vlak hanteer en die VF Plus het ’n verteenwoordiger in die provinsiale wetgewer,” het hy bygevoeg.

“’n Onafhanklike kandidaat het nie toegang tot sulke strukture nie.”

Coetzer het die vergadering met skriflesing uit Efesiërs 6:10 en ’n gebed geopen waarna hy die parlementslid, Heloïse Denner, die leier aan die woord gestel het.

Groenewald het beklemtoon dit is partybeleid om nie met kwotas te werk nie, maar wel met meriete.

“Heloïse is nie in die parlement omdat sy ’n vrou is nie.”

Vervolgens het hy die standpunt oor gelyke regte vir mans en vroue onderstreep en die partyondersteuners beskryf as daar vir die saak.

Plaaslike regeringsake soos slaggate raak die mense die meeste, was die voormalige burgemeester van Stilfontein se mening.

“As ’n raad ’n begroting goedkeur, kan die effek op die styging van munisipale tariewe gesien word.

“As die Minister van Finansies ’n begrotingsrede in Februarie lewer, kan die effek gesien word as belastingbetalers hulle opgawes indien.”

Groenewald het Coetzer beskryf as iemand wat betrokke in die gemeenskap is, ’n harde werker, ongeag of hy ’n raadslid geword het.


Vihanda Steyl. dr Pieter Groenewald en Zell-Mari de Jager by die openbare vergadering op 21 Oktober. Steyl en De Jager neem gereeld deel aan patrollies op die dorp.

Die waterkrisis, soos beleef op Standerton, het ook onder bespreking gekom. Wilma Venter, raadslid vir Wyk 10, het kortliks agtergrond gegee.

Groenewald het ook na sy gesprek met die president, Cyril Ramaphosa, in debatvoering verwys waar hy die watersituasie onder die loep geplaas het.

’n Kundige het aangevoer dat daar genoeg water is, maar die werklike probleem is in die infrastruktuur gewortel.

Die leier van die VF Plus het ook die partystandpunt oor regstellende aksie en swart ekonomiese bemagting bespreek en gesê dit het in kaderontplooiing en korrupsie ontaard.

“Kundigheid en ervaring moet oorgedra word,” aldus Groenewald.


LEES OOK: People walk in Secunda for freedom from human trafficking


Hy het toegegee dat dit nie maklik is in hierdie tye om ’n raadslid te wees nie, gegewe die klagtes wat dag en nag aangemeld word.

Groenewald het die Kieswet regulasies kortliks bespreek asook die era van koalisiepolitiek.

“Jy mag met ’n ander party verskil, maar die belanrikste is vertroue waar leiers mekaar respekteer. ’n Politieke veldtog moet volwasse hanteer word en nie ’n smeerveldtog wees nie.”

Die beskerming van alle taalregte, veral Afrikaans, lê die VF Plus na aan die hart en met verwysing na Hansard notules in die Kaap, wat op een stadium in Engels en Xhosa sou wees, het die party beswaar aangeteken.

Groenewald het nie doekies omgedraai oor die uitdagings verbonde aan koalisiepolitiek nie, met die oog op die 2024 verkiesing op nasionale en provinsiale vlak.

“Kompromieë moet aangegaan word.”

Ononderhandelbaar vir die VF Plus is die geloof aan ’n drie-enige God.

Met verwysing na die onlangse studiebesoek aan Duitsland, wat die leier van die DA John Steenhuisen, meegemaak het, het Groenewald die unieke poltieke situasie en Veelpartyhandves in Suid-Afrika so opgesom:

“Die Grondwet bepaal dat ’n president binne 14 dae verkies moet word.”

Hy het toegegee dat die stempersentasie by plaaslike verkiesings baie laag is en beklemtoon dat die die uitslag van die tussenverkiesing mense hoop sal gee.

“Die meerderheid kiesers voel hulle is klaar met politiek. Politiek is nie klaar met jou nie.”



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button