Local newsStreeknuus

Jakaranda-pers opwinding tydens Delmas VLU-uitstappie

Die vroue se eerste besoek op 25 Oktober was aan die Sammy Marks Museum en gids, Sibongile Gamede, het die horlosie ’n halfeeu na die Victoriaanse herehuis, gebou in 1885 teruggedraai.

Delmas se Vroue Landbou Unie (VLU) het hul formele maandelikse vergadering verruil vir ’n uitstappie na geskiedkundige geboue so tussendeur die pers Jakaranda bome in Pretoria.

Die vroue se eerste besoek op 25 Oktober was aan die Sammy Marks Museum waar hul gids, Sibongile Gamede, die horlosie ’n halfeeu na die Victoriaanse herehuis, gebou in 1885 teruggedraai het. Marks, ’n Russiese Jood was gebore in 1844 in Lithuania se Neustadt.

Volgens Gamede was Marks se pa ’n kleremaker en het hy vir Marks ’n goeie opvoeding gegee, een van integriteit, wilskrag, uitstaande besigheidsvaardighede en ongelooflike energie. Op vroeë ouderdom is die jong

Marks na Engeland. Met die nuus van die ontdekking van diamante in Kimberley, het Marks in 1869 in die Kaap aangeland.

Kort op sy hakke het sy neef, Isaac Lewis, gevolg. ’n Vennootskap, bekend as Lewis & Marks, was aangegaan en hulle het tussen die delwerye gesmous.


Margaret Bezuidenhout, Eileen Putter, Ansie van Zyl, Belinde Duvenage, Marié Terblanche, Jané Oosterhuis en Carin Uys geniet ’n ligte middagete onder die bome van die teetuin by Du Plooy’s Melkery.

“Ons was meegedeel dat Marks egter gou tot die besef gekom het dat daar veel meer waarde in diamante steek.

“Geen sent was gespaar om die geskiedkundige ou herehuis se vertrekke met prag en praal te versier nie. Soos ons deur die huis gestap het, was die eksklusiwiteit van die skilderye en porselein, tipies van hoë status in daardie tyd, opmerklik,” het die tak se skakelbeampte, Magriet Swart gesê.

Swart het verder vertel die dubbelverdieping woning 48 vertrekke gehad het wat Marks se privaatkamer, ’n goed toegeruste biblioteek, kinderkamers, ’n reuse eetkamer en kombuis insluit.

Die kombuis se 10-plaat gasstoof en vyf verskillende oonde het die vroue van Delmas VLU behoorlik in vervoering gehad.

Al nege Marks se kinders was tuis onderrig tot hulle nege jaar oud was en is daarna na privaatskole in Engeland gestuur.


Belinda Duvenhage by die ‘Cowhouse’.

Volgens Swart was hulle meegedeel dat Sammy Marks in sy testament bepaal dat die woning vir vier geslagte bewaar moes bly.

“Dit is nou al langer, maar gelukkig het die Nasionale Kultuur Historiese Raad die woning aangekoop en het dit behoue gebly vir die nageslag.”

Volgens Swart was hulle verder meegedeel dat Marks se nalatenskap sy entrepreneurskap, besigheidsvenuf en vriendskapsbande met beide die Boere en die Britte insluit.

“Hy was ‘n familieman, joviaal, gasvry en vrygewig. Hy was ’n raadgewer vir president Paul Kruger en bemiddelaar vir vrede tussen die Boere en die Britte. Die Vredesverdrag van Vereeniging was ook op dié eiendom gesluit.”

Swart het verder genoem dat die tuine rondom die huis pragtig in stand gehou word. Dit was egter nie die einde van die Delmas VLU-tak se historiese toer nie.

“Ons was genooi na die ‘Cowhouse’, aangrensend aan die Sammy Marks Museum.”


Delmas se VLU taklede geniet koffie by die ‘Cowhouse’ in Hazeldene, Pretoria.

Swart het vertel dat Frederick Malleson die derde geslag Mallesons is wat op dié plaas woon en werk.

“Dit was die tuiste van die grootste Ayrshirestoet in Suid-Afrika, die vierde grootste melkery in Suid-Afrika.”

Oupa Charles Malleson het die plaas van sy oom, Arthur Struben in 1944 gekoop en vanuit Stellenbosch per trein met sy Ayrshire kudde en al sy plaasimplimente in Pretoria gaan vestig.

Charles op die ouderdom van 42 jaar begin om die groot Kaap-Hollandse gewelhuis te bou.

Volgens Swart het die opstal oor dekades as landmerk vir reisigers gedien en kan dit steeds vanaf die N4 snelweg, net oos van Silver Lakes, gesien word.

Gevul met historiese inspirasie het die vroue by die Pienk Koei restaurant aangedoen waar hulle ’n rustige middagete onder die bome by die Du Plooy’s Melkery genuttig het.

“Ons het hierdie leersame en gesellige dag met ’n draai-roomys elk afgesluit,” het sy gesê.




Follow Us: Ridge TimesStandertonStreeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button