Local newsStreeknuus

Delmas Makietie sorg vir hope pret en plesier

Die dag se gebeure het om 07:00 met ’n pretloop afgeskop en Hannes van Wyk het vroue tydens ’n sielskos damestee geïnspireer.

Die lang verwagte Delmas Makietie, as deel van die dorp se Kwêla Dorp van die Jaar-prys, het op 4 November realiteit geword.

Hoërskool Delmas se terrein was omskep in een van feestelikheid met kykNET kameraspanne, uitstallers, opvoerings en sepiesterre om elke hoek en draai te sien.

Die atmosfeer was vooraf tasbaar en Delmas was in rep en roer met die kykNET kameraspanne, verhoog opslaan en agter die skerm bedrywighede.

Volgens inligting het sowat 4 000 besoekers die hekke binnegekom en was dit een van die grootste feeste wat Delmas nog beleef het.


Eloff se ma- en dogterspan……………. en Rochelle van Wyk met hul unieke babaklere reeks.

Die dag se gebeure het om 07:00 met ’n pretloop afgeskop en Hannes van Wyk het vroue tydens ’n sielskos vrouestee geïnspireer.

Die makietie se hekke het om 10:00 formeel geopen en tydens die openingstoespraak was die burgemeester van die Victor Khanye Munisipaliteit, Vusi Buda, asook die voorsitter van Delmas Herleef, doktor Martin van Rensburg, aan die woord.

Buda het hom by die staatspresident, Cyril Ramaphosa aangesluit deur eerstens die Springbokke met hul kroning as rugbykampioene van die wêreld geluk te wens.

Buda het die Bokke bedank vir die herinnering daaraan dat met voorbereiding, eenheid en veerkragtigheid enige teenspoed oorwin kan word.


LEES OOK: Cattle on residential stand in Cullinan has to move to a farm


“In die dieselfde gees is ek bevoorreg om in 2023 Delmas se Kwêla Makietie te open. Die inwoners van Delmas en Victor Khanye het hard gewerk om ons dorp skoon te maak en Delmas die plek van keuse te maak,” het Buda tydens sy toespraak gesê.

Uitstallers van heinde en ver het aan besoekers iets van alles gebied. Daar was handgemaakte leer items en meubels, tuisgemaakte kaas, gesondheidsprodukte, skilderye, klere en juwele, trekkers, implemente, verskeie voertuighandelaars en vele meer.

Aan kosstalletjies was daar ook geen tekort nie en besoekers kon kies en keur tussen worsbroodjies, braaibroodjies, swarmas, skyfies en sosaties. Vir dié met ’n soettand was daar oliebolle, pannekoek, spookasem, roomys, koue koeldrank en drinkgoed.


Laerskool Sundra personeel by hul stalletjie by die makietie.

Ook die Delmas Polisie het ’n uitstalling gehad waar besoekers ingelig kon word rondom verskeie aspekte van misdaad.

Die plaaslike AfriForum-tak het ’n skaap uitgeloot. Die trekking was deur Van Rensburg waargeneem. Die gelukkige wenner was Marius Strydom, ’n besoeker vanaf Brakpan.

Vir die jong besoekers was daar ’n pretpark en springkasteel. Opvoerings het die M&M Dance Sensations en rasieleiers van verskeie kleuterskole, Laerskool Delmas en Hoërskool Delmas ingesluit.

Oud-Delmasser, Karen Els en onlangse Kokkedoor-wenner het as beoordeelaar tydens die braaibroodjie kompetisie opgetree.


Die gemeenskapsgroep Penduka met hul uitstalling by die Makietie Fees op Delmas.

By die boeresport het inwoners teen kykNET se sepiesterre in sakresies, toutrek en vele meer te staan gekom.

’n Ringbalwedstryd tussen die plaaslike Dragons Ringbalklub en die Phoenix Rugbyklub het op die netbalbane plaasgevind.

Tussendeur was daar fotogeleenthede saam met die verskeie kykNET sterre wat die makietie bygewoon het, terwyl Riverfields en Forest J vir vermaak op die verhoog gesorg het.

’n Gesellige atmosfeer het in die biertuin geheers en die aand was met arena optredes van onder andere Irene-Louise van Wyk, Danny Smoke, Dirk van der Westhuizen en Snot.

Van Rensburg en Madel Fourie het elkeen wat bygedra het tot die sukses van Delmas as Dorp van die Jaar vir 2023 aanwysing, sowel as die makietie vir die viering van die wen bedank.

“Ons makietie was ’n reuse sukses. Mag dit die begin wees van ’n dorp wat opstaan en weer begin blom. Ons dank aan die Here vir sy goedheid en guns,” het Fourie laat hoor.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button