Local news

Jong onderwysstudent van Standerton kom heelhuids deur na skokdiagnose

Haar geloofsvertroue wentel om die Skepper se genade, ’n ondersteuningsnetwerk van haar ouers, familie en vriende se bystand.

’n Onderwysstudent by Akademia in Centurion, Pretoria het die diagnose van meervoudige sklerose op 18 die hoof gebied.

Wilani Alberts van Standerton het ’n wiskunde vraestel trotseer net nadat sy uit die Life Groenkloof Hospitaal ontslaan is.

“Ek was verlam aan die regterkant van my liggaam en die medici het eers gedink dit kan ’n werwel in my rug wees,” het Wilani vertel.

“Die neuroloog was egter baie positief.”

’n Algemene praktisyn in Pretoria het eers gedink dat sy aan Guillain Barre-sindroom ly. Wilani is in ongevallle opgeneem vir ’n MRI skandering wat toe uiteindelik ’n drie-uur-lange proses afgegee het.

Medici kon nie dieselfde dag haar uitslag bekendmaak nie en sy moes teruggaan die volgende oggend. Haar ouers het deurgery van Standerton en die bevinding op 7 Mei was dat daar ’n moontlikheid van meervoudige sklerose bestaan.


Wilani Alberts in die hospitaal.

Toetse sou egter gedoen moes word.

“Ek kon eenvoudige dinge, soos my hare kam of tande borsel, nie meer doen nie. Ek kon ook nie skryf nie.”

Wilani het die pad van fisio- en arbeidsterapie geloop en die praktisyns lof toegeswaai.

Sy kon vanjaar al die vraestelle op haar skootrekenaar skryf, met die uitsondering van die twee wiskundevraestelle.

“My hand het so gepyn toe ek klaar was na drie uur.”

Die wiskundevraestel is in Junie geskryf. Wilani gaan tuis in die koshuis Strelitzia en omarm die koshuislewe en al sy bedrywighede.

“Dit is ’n oulike klomp by die koshuis en die koshuisouers was baie tegemoetkomend.”

Gegewe dat sy op die boonste vloer van die koshuis gebly het, moes sy dit oorkom.

“My regterbeen het agter my aangesleep.”

Wilani is na ’n besoek op 8 Augustus na haar neuroloog die welkome nuus meegedeel dat daar geen rede is om met behandeling te begin nie.

Sy let noukeurig op haar dieet soos byvoorbeeld suiwel- en olieprodukte en as sy ooit ’n soettand gehad het, is dit nou by die agterdeur uit.

Haar geloofsvertroue wentel om die Skepper se genade, ’n ondersteuningsnetwerk van haar ouers, familie en vriende se bystand.


LEES OOK: eMba schools compete in Buco school painting competition


Akademia, ’n privaat hoëronderwys instelling, het 80 eerstejaar onderwysstudente en Wilani het vir intermediêr ingeskryf om Grade Vier tot Sewe te onderrig.

“Die kampus raak nou te klein en ander moontlikhede word ondersoek.”

Daardie allerbelangrike hekkie wat sy moet oorpring wag nou op haar.

“My bestuurderslisensie is nou op my emmerlys.”

Wilani het aan die begin Pilatus-oefeninge gedoen om haar immuniteitstelsel op te bou, gaan gimnasium toe by die koshuis en draf gereeld.

“Wat met my gebeur het was onbeskryflik, vir iemand wat nog nooit siek of in die hospitaal was nie.

“Jou hele lewe lê voor jou.”

Haar neuroloog het egter gesê die medikasie vergeleke met 20 jaar gelede, het groot spronge gemaak.

“Ek is nou springlewendig.”

Wilani was platgeslaan toe sy mense in rolstoele sien wat haar gemoedstoestand negatief beïinvloed het.

“Ek wou nie so leef nie en wil onafhanklik wees.”

Sy sal op 15 Januarie volgende jaar met skoolobservasie begin om te sien hoe gesoute onderwysers die klaskamer omgewing aanpak en vroeg Februarie begin haar akademiese jaar.

Akademia bied tans ’n grondslagfase aan en skryf nou aan hulle seniorfase, wat die deur vir Wilani wyd ooplaat om haar daarin ook te bekwaam.

’n Oorblyfsel van die herstelproses is haar sensitiwiteit vir hitte of koue. Marlothpark volgende Januarie gaan katvoet aangedurf word.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button