Drie dood in twee ongelukke naby Delmas lui die feesseisoen in
Die ongeluk het gebeur toe ’n minibus taxi met ’n Mosambiekse registrasie nommer en met 14 passasiers aan boord, omgeslaan en verskeie kere gerol het.
’n Stukkende sleepwa, uie, aartappels, yskaste, stoele, beddens, kinderspeelgoed en tasse was die stille getuies van mense wat waarskynlik in groot opgewondeheid na hul families in Mosambiek oppad was.
Drie mense het binne 24 uur in twee afsonderlike ongelukke digby Delmas op die N12 hoofweg, hul lewens verloor.
Die eerste ongeluk het op 23 November kort na die op die oprit, vanaf die R42 op die hoofweg plaasgevind.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nie duidelik nie, maar dit blyk dat die bestuurder beheer oor die vragmotor verloor en dit omgeslaan het. AfriForum se eerstehulp- sowel as reaksiespanne was na die toneel ontbied.
Al drie die insittendes van die vragmotor is op die toneel behandel waarna hulle per ambulans na die Bernice Samuel Hospitaal vervoer is.
Volgens die Delmas Polisie mediawoordvoerder, Kaptein Carla Hartley was daar meestal spynenieringstoerusting op die vragmotor.
Hartley het Streeknuus ook meegedeel stropery het byna onmiddellik na die ongeluk begin en die vrag het baie vinnig verdwyn.
Die Valke Buurtwag het tot in die vroeë oggendure van 24 November bystand gelewer met verkeerbeheer op die R42- en N12 paaie.
Alle nooddienste was op die toneel.
Tydens die tweede ongeluk op 24 November tussen die Dryden- en Dwarsfontein afritte het drie persone hul lewens verloor.
Die ongeluk het gebeur toe ’n minibus taxi met ’n Mosambiekse registrasienommer en met 14 passasiers aan boord, omgeslaan en verskeie kere gerol het.
Die bestuurder van die taxi het Streeknuus meegedeel die sleepwa met bagasie het begin ruk wat die taxi daarna onbeheerbaar gemaak het.
Lede van AfriForum Valke Buurtwag was baie vinnig op die toneel.
“Daar was pasiënte oral oor, die meeste het baie ernstige beserings opgedoen. Die bestuurder van die taxi het skynbaar egter ongedeerd van die ongeluk afgekom en het aangedui dat hy geen mediese hulp benodig nie,” het
Jolene Rheeder, lid van die Valke Buurtwag eerstehulpspan Streeknuus meegedeel.
“Dit was egter moeilik om al 14 insittendes te midde die chaos op te spoor.”
Een passasier was oor beide bane geslinger en het aan die anderkant van ’n brugreling te lande gekom. Hy was deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
Pasiënte was deur eestehulp personeel op die toneel behandel tot en met die aankoms van drie ambulanse.
Twee insittendes is deur personeel van ER24 op die toneel dood verklaar terwyl ’n derde met sy aankoms by die Bernice Samuel Hospitaal dood verklaar is.
Volgens ’n omstander op die toneel was die taxi na Mosambiek onderweg. Die omstander het Streeknuus meegedeel dat die taxi glo by die nabygleë Petroport sou aandoen waar familielede sekere van die taxi se insittendes sou inwag.
Die verkeersdepartement, polisie en buurtwaglede was op die toneel teenwoordig.
Hartley het Streeknuus meegedeel, “Met die feesseisoen voorlê, moet motoriste geduldig en waaksaam op alle paaie wees ten einde ongelukke en gepaardgaande lewensverlies te beperk.”
Hartley doen verder ook ’n beroep op motoriste om geduldig te wees wanneer hulle ’n ongelukstoneel nader.
Gehoorsaam die verkeersaanwysers, verminder spoed, maar moet nie stop nie. Dit kan tot verdere ongelukke ly.”
Daar is intussen ’n klag van strafbare manslag teen die bestuurder van die minibus taxi gelê.
Volgens inligting was al die passasiers, sowel as die bestuurder van die taxi, Mosambiekse burgers.








