Local newsLocal sport

Louwtjie Kotze van Evander geniet sy wedvlugduiwe

Duiweboer hengel graag in sy vrye tyd.

Louwtjie Kotze het al sedert sy kinderdae met wedvliegduiwe te doen gekry en dit is waar sy liefde vir dié stokperdjie begin het.

“My oupa het met vliegduiwe geboer en ek het met dit grootgeword,” het Kotze vertel.

Toe hy nog gewerk het, was dit moeilik om tyd in te ruim vir dié stokperdjie en Kotze het dit toe eers op ys gesit vir baie jare.

Hy het egter sowat drie jaar gelede weer by die Sasol Posduifklub aangesluit en besluit om weer dié stokperdjie op te neem nadat sy kleinkinders hom begin uitvra het oor vliegduiwe.

“Dit is ’n stokperdjie wat baie tyd en aandag verg. ’n Mens moet die regte kos en medikasie vir die duiwe gee en seker maak hulle kry die regte oefening in.”

Vir Kotze gaan dit nie daaroor of sy duiwe wen of verloor nie, dit gaan oor sy liefde vir dié diere. Dit is vir hom die lekkerste om te sien hoe die duiwe na wedvlugte van tot so vér as 900km weer huis toe kom.

“As hulle gaan sit, is dit asof hulle hul vere so regskud en daarmee sê: ‘Ek is tuis’.

“Ek gee dan dadelik vir hulle kos en water, jy weet nie wat daai duif alles deurgemaak het op die vlug op pad huis toe nie. Dit is soos ’n Comrades atleet wat sy wedloop voltooi.”

Kotze het by die prysuitdeling van die klub, wat ook ander klubs vanaf Springs en Boksburg ingesluit het, die afdeling vir jong duiwe gewen.

“Ek het glad nie verwag dat my duiwe so goed sou doen vanjaar nie. By een van hul wedvlugte in Julie, toe hulle vanaf Colesberg moes vlieg, was dit die dag voor hul vlug onweer en die organiseerders het besluit om die wedvlug met ’n dag uit te stel.”


Louwtjie Kotze wys een van sy jong wedvlugduiwe.

Hy het algeheel sewende geëindig en is trots op die sertifikate en foto van een van sy duiwe wat hy as pryse ontvang het.

Kotze se kleinkinders help hom graag in die duiwehokke en hy het nog een van die ou stophorlosies wat sy oupa jare terug gebruik het om die duiwe se tye mee te bepaal.

“Dit is vir my opwindend om te wag vir die duiwe om huis toe te kom, daardie afwagting.”

Kotze het selfs sy hond, Minkie geleer om te wag. Sy gaan lê op haar rug as Kotze haar beveel om vir die duiwe te wag.

In sy vrye tyd geniet Kotze dit om tyd met sy kleinkinders en familie te bestee of om te hengel. Hy gaan hengel weekliks saam met ’n groep vriende by nabygeleë damme.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button