Local news

Sundra Bulldogs Buurtwag sluit 2023 gesellig af

Bester het sy komitee, die persone wat radioroep doen, die mediese span en al die raakvatters bedank vir die goeie diens wat hulle binne die raamwerk van die buurtwag, aan die gemeenskap lewer.

Die Sundra Bulldogs Buurtwag het op 2 Desember tydens ’n gesellige samekoms die jaar in die saal van Laerskool Sundra afgesluit.

Die voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag, Derek Bester, het almal verwelkom en eer aan sy lede gebring vir hul betrokkenheid en gewilligheid om hul deel vir die gemeenskap te doen.

Bester het ook vir sy komitee, die persone wat radioroep doen, die mediese span en al die raakvatters bedank vir die goeie diens wat hulle binne die raamwerk van die buurtwag, aan die gemeenskap lewer.

Die Bulldogs se reaksiespan was ook geloof vir hulle vinnige bystand in tye van ernstige misdaad. Bester het ook hulde gebring aan die Sundra Polisielede en het die bevelvoerder Kaptein Linky Olckers asook Adjudant Offisier Welma Kirby en Adjudant Offisier Lucky Mabena bedank vir hul diens.


Die voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag, Derek Bester, aan die woord.

Hy het ook, namens die Bulldogs, aan die Sundra Polisie ’n sertifikaat van waardering uitgereik. Bester het die AfriForum se Delmas Valke Buurtwag, voorsitter, Carel Botha, dank betuig vir die ernorme taak wat hulle binne ’n baie groot gebied verrig.”

Botha het op sy beurt bekelmtoon dat hy die grootste respek vir Bester en sy span het.

“Die Bulldogs is volgens my een van die beste buurtwagte ooit. Hulle onbaatsugtige diens aan die gemeenskap word waardeer en die feit dat ons buurtwagte saam as een groot span kan werk, maak dit baie spesiaal,” het Botha gesê.


Angelique en Derek Bester.

Bester het sy deel van die formaliteite afgesluit deur sy vrou, Angelique, te bedank vir dit wat sy vir die Bulldogs en die gemeenskap doen en vir hom beteken.

Die ondervoorsitter van die Bulldogs, Rudolph Venter, het Bester bedank vir die goeie leier wat hy is en sy flink reaksie in tye van nood.

“Derek is altyd eerste op ’n toneel. Dit is al ’n onderlangse gespottery dat hy heel waarskynlik met klere, skoene en sy koeëlvaste baadjie slaap. As Derek nie eerste op ’n toneel is nie, is hy nie in die dorp nie,” het Venter bygevoeg.

Daarna was dit tyd vir gesellig verkeer en nadat die Bulldogs, eregaste en vriende heerlik geëet het, was die musiek se volume opgedraai en het almal lekker geskoffel.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button