Kerke van Delmas sluit gesamentlike jeugweek af
“Ons werk saam, ons kuier saam en ons aanbid saam, dit maak van Delmas ’n baie spesiale dorp en moontlike een van die enigstes in die land of moontlik in die wêreld.”
Die onderskeie denominasies van kerke op Delmas het weer vanjaar ’n suksesvolle jeugweek vir die jongklomp van die omgewing aangebied.
Die konsert het op 7 Desember in die kerksaal van die Hervormde Kerk op Delmas plaasgevind en ouers, grootouers en vriende het die geleentheid bygewoon.
Die doel van die jaarlikse jeugweek was om die skoolgaande kinders in die tyd wat ouers nog werk nadat skole reeds gesluit het, konstruktief besig te hou. Vanjaar se tema was die van gelykenisse vanuit die Bybel en kinders was ook weer herinner aan die belangrikheid van gebed.
Volgens doktor Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde Kerk op Delmas het die jongklomp ook besoek aan die senior burgers van Ons Eie Ouetehuis gebring. Tydens dié besoek was daar vir verswakte bejaardes in hul kamers gebid.
Van Rensburg het elkeen wat ’n bydrae tot die sukses van vanjaar se jeugweek gemaak het, bedank. Van Rensburg het ook gesê dat sover hy bewus is, Delmas die enigste dorp is waar verskillende kerke se predikante en pastore so goed oor die weg kom en saamwerk.
“Ons werk saam, ons kuier saam en ons aanbid saam, dit maak van Delmas ’n baie spesiale dorp en moontlike een van die enigstes in die land of moontlik in die wêreld,” het van Rensburg gesê.
Van Rensburg het verder genoem dat elke kind daagliks ’n klein bydrae gemaak het waaruit kostes vir die dag se aktiwiteite betaal is.
Vanjaar het daar ’n bedrag oorgebly en van Rensburg het dit, namens die predikers van Delmas aan die Valke Buurtwag oorhandig.
“Dit het aan die lig gekom dat die Valke Buurtwag geld insamel om die elektriese heining van Herfsland Aftreeoord te herstel. Die veiligheid van ons bejaardes is vir ons baie belangrik. Ons is ook baie dankbaar vir die goeie werk wat die Valke vir ons dorp se veiligheid doen en beteken.”
Helena Biermann het namens die Valke Buurtwag-bestuur ’n bedrag van R2 400 in ontvangs geneem.
Die jongklomp het hierna lekker konsert gehou en ook die dominees het met hul opvoering vir groot vermaak onder die konsertgangers gesorg.






